NUWE BMW 5-REEKS LENIGE ATLEET IN ‘N KISPAK DEUR DIRK GALLOWITZ

NUWE BMW 5-REEKS                                LENIGE ATLEET IN ‘N KISPAK DEUR DIRK GALLOWITZ

BMW Suid Afrika het onlangs hul nuwe 5-reeks in die Suid Kaap bekendgestel. Terwyl BMW wêreldwyd met talle modelle sukses en by sommige ook ikoniese status verwerf het, is daar myns insiens geen ander model wat oor die jare heen die naam BMW meer vergestalt as juis die 5-reeks. Hierdie nuwe model is nou reeds die 7de generasie en is nou meer as ooit tekenend van waarvoor die vervaardiger vandag bekend staan, naamlik “Suiwer bestuursgenot”.

BMW beskryf die nuwe model as “a business athlete” en na my tyd agter die stuur moet ek erken, die beskrywing is in die kol. Die nuwe model is luuks, amper oordadig so en in vele opsigte op dieselfde vlak toegerus as die vlagskip 7-reeks. Tog is die sportiwiteit- en verrigtingseienskappe waarmee die 5-reeks oor die jare vereenselwig is, steeds onmiskenbaar daar. Die eienskappe om die beeld van ‘n suksesvolle besigheid na buite te basuin is daar, maar die aggressiewe sportiwiteit en spoed waarmee ‘n lenige atleet geassosieer word, is verdoesel onder die luukse metaaljas.

 

Vir die bekendstelling by die bekende Oubaai Golfoord buite George het BMW vier modelle beskikbaar gestel. Almal behalwe een is met die sportiewe M-Sport pakket toegerus. Twee dieselenjins die 520d en 530d, asook twee petrolenjinmodelle, naamlik die 530i en 540i was beskikbaar. Al hierdie enjins was toegerus met turbokrag en BMW se heerlike  8-spoed outomatiese ratkaste. Aandrywing vir die 5-reeks is steeds deur die agterwiele. Al die modelle is beskikbaar in drie verskillende afwerkingspakkette, naamlik “Sport Line”, “Luxury Line” of die meer sportiewe “M-Sport”.

 

Die voorkoms buite is meer  7-reeks as 3-reeks met veral die kantprofiel wat sterk ooreenkomste met die nuwe 7-reeks bied. Die nuwe model is ‘n paar millimeter langer en ook effe breër, maar weeg nietemin so 100kg ligter as die uitgaande F10 model. Voor vloei die nuut ontwerpte hoofligte ineen met die sierrooster en bied die M-sport afwerking groot luginlate wat weerskante laag in die lugskort geplaas is. Die enjinkap se sterk lyne word voortgesit langs die sye met die flanke wat wyd oor die 19” agterwiele met breë lae profiel rubber bult. Agterlangs is dit die twee uitlaatpype weerskante  (standaard op al die modelle)  wat ook bydra tot die sportiewe element in die ontwerp. Ligter, slanker met ‘n klasleidende sleursyfer is die 2017 5-reeks inderdaad atleties – daar waar dit saak maak – op die pad natuurlik! Al die modelle is so 10% vinniger en ten spyte dat die enjins uit die vorige model gebruik word, is daar gemiddeld so ‘n 11% verbetering op brandstofverbruik.

 

Binne kan die luukse kajuit van die nuwe Vyf tereg eerder as die van ‘n kleiner 7-reeks beskryf word.

Groot knus sitplekke oordadig beklee in sagte nappa-leer verwelkom insittendes en bied heerlike gerief en steun. Die M-Sport afwerking is sigbaar in die sport stuurwiel, rathefboom en by die deurdrumpels.

Pragtige hout-, swart oniks en gepoleerde aluminium afwerkings  bring smaakvolle afronding in die weelderige kajuit.  Uiteraard is die lys van standaard elektroniese toerusting en bestuurderhulpstelsels omvattend en bied die nuwe Vyf gelykmatige vlakke van bestuurder- en passassiersgerief soos wat in Munich se 7-reeks vlagskip ten toon gestel word.

 

BMW se baanbreker  iDrive™ stelsel is vir die soveelste maal vernuwe en verbeter vir die 5-reeks en bied nou ondermeer in die voorblad  ses hooftemas wat in horisontale blokke vertoon word op die heelwat groter hoë-definiese kleurskerm middel bo in die voorpaneel. Eerste prys gaan egter aan die nuwe 5-reeks se nuwe slimsleutel. Op die sleutel is daar ‘n digitale kleurskerm wat jou toelaat om buite by jou pelle op die grasperk te staan en met die slimsleutel jou nuwe Vyf se vensters oop en toe te maak, die motor se funksies na te gaan, lugversorging aan te skakel om in ‘n verkoelde kajuit in te klim, of selfs beter nog, om jou motor met die sleutel in die oprit in te ry en netjies te parkeer!

 

Die baba in die reeks is die 520d wat aangedryf word deur ‘n 1995cc viersilinder turbodieselenjin met 140kW en 400Nm se piekkrag.  Die ‘n 0-100kpu lopie word in 7,7 sekondes afgedraf en brandstofverbruik word aangegee as 4,5 liter/100km. Die 530d kry krag van ‘n 2993cc reguit ses silinder met turboaanjaging. Piekkraglewering word aangegee as 195kW met ‘n indrukwekkende 620Nm se piek wringkrag wat die motor van 0-100kpu in slegs 5,7 sekondes laat versnel.  Amptelike verbruik word aangegee as 4,9liter /100km in ‘n gemengde siklus van ooppad en stadry.

 

Die 530i gebruik ‘n viersilinder petrolturboenjin van 1998cc wat 185kW en 350Nm lewer. Die 0-100kpu lopie neem slegs 6,2 sekondes en brandstofverbruik is amptelik 5,9l/100km. Topmodel in die reeks (totdat die M5 sy buiging maak) is tans die 3,0 liter reguit 6-silinder 540i met ‘n gewillige 250kW se piek verrigting en 450Nm se wringkrag. Platvoet hardloop die 540i die 0-100kpu in slegs 5,1 sekondes af, wat verstommend is gegewe die groot bak. Brandstofverbruik word aangegee as 6,9l/100km.

 

Pryse is as volg:

530i : R838,700

540i : R985,300

520d : R770,500