Nuwe Hilux lyk na ‘n voorslag-bakkie

Nuwe Hilux lyk na ‘n voorslag-bakkie
MOTOR NUUS – Hilux is al deel van die landskap en die jongste weergawe van die taai baanbreker is algemeen verwelkom.
Die vorige nuwe model is al ‘n dekade gelede bekend gestel en dus was die verwagtinge vir die nuweling hoog.

Toyota het beslis hard gewerk om Hilux ‘n behoorlike bekendstelling by Kyalami naby Johannesburg te gee. Die renbaan is nog onder konstruksie nadat dit deur Porsche SA gekoop is, maar dele van die baan was beskikbaar om darem self te kyk hoe vinnig die bakkie kan versnel en hoe verbasend goed dit hanteer het op ‘n paar draaie teen ‘n taamlike spoed.
Selfs al was die huidige Hilux ‘n dekade oud, was dit steeds die topverkoper in sy algehele segment in die laaste maand van handel (Desember 2015) terwyl almal geweet het die model sou binnekort vervang word.
Ons het die bakkie ook op ‘n spesiale, veeleisende veldroete bestuur en die vermoë op ‘n handgeboude metaalroete beleef. As die voertuig nie so stewig gevoel het nie, sou veral laasgenoemde dalk benoud gevoel het! Die moeilike veldroete het al die Hilux-modelle sommer maklik deurgedraf. Ons het ‘n handratweergawe bestuur en oorskakeling was maklik met ‘n lekker reaksie van die gewillige enjin.
“Die Hilux se verkope getuig van die vertroue wat ons klante in die produk het en versterk Toyota se steunpilare vir gehalte, duursaamheid en betroubaarheid,” sê Calvyn Hamman, senior visepresident van verkope en bemarking by Toyota SA.
Die kalant is nou heelwat meer as net rateltaai – klante verwag nou meer gerief en verfyning in die ontwerp. Buite bult die spiere, maar binne was die voertuig feitlik so gerieflik as ‘n sedan.
Indringende toetse is gedoen om gerief op Suid-Afrika se berugte padoppervlakke te verseker, want volgens Toyota se hoofingenieur uit Japan, Hiroki Nakajima. het Suid-Afrika van die beste slaggate “ter wêreld” wat ‘n goeie toetsterrein verseker! Hy het die volgende dag met ‘n uitsoekgroep joernaliste gesels oor vernuwing in die Hilux.
Al die Hilux-modelle het stewige en duursame swart sitplekbekleedsel van topgehalte met drie ontwerpe. Die werkesel-modelle fokus meer op robuustheid terwyl die middel- en hoëgraad-modelle gerieflik en modern is. Leerbekleedsel kan bykomend in dié modelle bestel word.
Binne het die nuwe Hilux meer ruimte en gemakliker sitplekke, sowel as talle praktiese bergruimtes.

TAAI

Die nuwe model het ‘n splinternuwe raam wat aansienlik sterker en stewiger is vir beter hantering, ritgemak, minder geraas en botsveiligheid.
Die stuurkolom is herontwerp om die oordrag van vibrasies van die padoppervlak te verminder. Die hidrouliese kragstuurstelsel is verfyn vir ‘n beter stuurgevoel.

Vir kopers wat gereeld in die veld ry, het die nuwe Hilux ook weergawes met vierwielaandrywing wat op die vermoë van sy voorgangers bou.

Die 4WD-draaiknop kan in die ry teen snelhede tot 50 km/h gebruik word om tussen 2WD, gewone 4WD en 4WD met laestrek te wissel.
Die nuwe Hilux pronk met talle elektroniese bestuurdershulpmiddels. Een hiervan is Toyota se aktiewe kloubeheer (A-TRC).
Opdraandewegtrekhulp (HAC) keer dat die voertuig agtertoe loop wanneer die bestuurder die rempedaal teen ‘n helling los.
Afdraandebeheer (DAC) is eksklusief aan die 4×4-weergawes.

SLEEP

Gevorderde nuwe kragbronne stel die nuwe Hilux in staat om ‘n gedugte vrag te sleep. Sleepvermoë is deur die bank verhoog (buiten die intreevlak-petrolmodel) en die 2.8 GD-6 4×4-model pronk met ‘n monsteratige 3,5 ton se sleepvermoë.
Die nuwe Hilux is met vier toerusting-graderings beskikbaar vir die spesifieke behoeftes van die gebruiker: die intreevlak-werkesel, die middelgradering SRX het bykomende toerusting en die Raider-gradering is die vlagskip in al drie rompweergawes.

‘n Nuwe toevoeging tot die reeks is die SR-gradering wat spesifiek op mynbouklante gerig is.

Drie rompvorms word gebied: enkel-, Xtra- en dubbelkajuit. ‘n Uitstaande kenmerk van die Xtra-kajuit-weergawe is die hangkas-tipe deure om toegang te vergemaklik.
Alle modelle word gedek deur ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 kilometer met versiening elke 10 000 kilometer.

PRYSE

Enkelkajuit – R228 900 tot R 435 900; Xtra-kajuit – R333 900 tot R470 900 en dubbelkajuit R 377 900 tot R593 900.
hilux2