Nuwe Mercedes E-Klas Die Einstein van sy klas Deur DIRK GALLOWITZ

Nuwe Mercedes E-Klas Die Einstein van sy klas  Deur DIRK GALLOWITZ

Mercedes Benz het onlangs sy 10de generasie E-klas sedan in Durban bekendgestel. Die “E” in E-klas staan vir ‘Einspritzer” of te wel “Inspuiting” en met meer as 13 miljoen E-klas modelle wêreldwyd verkoop, kan dit tereg as ‘n suksesverhaal gereken word. Die nuutste model kom met ‘n moderne voorkoms en toegerus met ‘n arsenaal vol innoverende elektroniese tegnologie vir veiligheid, verrigting en ekonomie om voort te bou op die sukses van die reeks.

 

Die ongeoefende oog mag die nuwe model dalk net verwar met ‘n effe groter C-klas van voor gesien, of dalk ‘n kleiner S-klas as jy hom van agter betrag. Hoe ook al die voorkoms die nuwe “E” met sy stalmaats vereenselwig, is dit wat onder die elegante bakwerk skuil wat die nuwe model onderskei as die Einstein van sy generasie. Mercedes beskryf die nuwe E-klas as die “intelligentste luukse sedanmotor ter wêreld” en nadat ons die bekendstelling bygewoon het en  byna 400 kilometers van Kwa-Zulu Natal se paaie met drie van die modelle gaan verken het, is ons geneig om daardie stelling te onderskryf.

 

Wat voorkoms betref het die nuwe “E” nou sy hoekige, breë en plat voorkoms verruil vir onmiskenbare uiterlike ooreenkomste met die kleiner C-klas en luukse S-klas. Met ‘n totale lengte van 4,923 meter is die nuwe “E” nou 43mm langer as die uitgaande model. Die wielbasis is ook met 65mm gerek tot 2,939 meter. Die gevolg is dat die kantprofiel van die nuwe model nou meer elegant vertoon. Met die daklyn wat koepee-agtig laag na agter swiep word die ontwerpfilosofie bekend as  “Sensual Purity”, duidelik sigbaar. Die vooraansig word bepaal deur die keuse van afwerkingsvlak met die basiese model en “EXCLUSIVE Line” wat beide die klassieke Mercedes-Benz sierrooster vertoon waar die 3-punt ster voor op die neus geplaas is. Die luukser “AVANTGARDE” en “AMG-Line”- afwerkingsvlakke dra egter die sportiewe sierrrooster met die 3-punt ster-logo in die middel, asook  groter luginlate voor laag onderin die neus. Verskillende sierwielontwerpe is beskikbaar in 17”, 19” en 20” grootte. Van agter vertoon die breë skouers wat styf oor die wielboë trek na die groter S-klas. ‘n Nuwe 2-streep agterligontwerp is ook nou beskikbaar met ‘n splinternuwe opsionele ekstra, bekend as “Milky Way” met optiese kristal afwerking om die illusie van fyn sterremis of die gloei van ‘n straalvliegtuigenjin te skep.

 

Binne is die kajuit herkenbaar Mercedes, met die ontwerp, uitleg en instrumentasie wat visueel sterk trek na die van die S-klas. Die luukse binneruim is modern, elegant en tog sportief afgewerk met uitstekende gehalte en vakmanskap. Mercedes beskryf dit as ‘n mengsel van emosie en intelligensie. Voeg daarby, gemak, veiligheid en doeltreffendheid en jy het ‘n goeie idee van hoe een van die beste kajuite in ‘n luukse sedanmotor behoort te wees. Genade – die agtergrond binneligte kan uit ‘n keuse van 64 kleure gekies word!

 

Twee 12,3” hoë resolusie skerms is opsioneel beskikbaar waarop die virtuele instrumentasie en uitleg gekies kan word via twee “Touch Sensitive” aanraak-skakelaars op die stuurwiel wat presies geplaas is waar die duime links en regs op die stuurwiel sou rus. Hiermee kan die bestuurder kies tussen 3 verskillende style waarin die ten volle digitale uitleg saamgestel word. Met “Classic”, “ Sport” of “Progressive” kan die samestelling van die inligting na gelang van die bestuurder se voorkeure vertoon word terwyl die bestuurder op die pad voor hom kan konsentreer. Met die “LINGUATRONIC” stembeheerstelsel kan meeste van die klank-, kommunikasie- en ander stelsels deur middel van stemopdragte beheer word.

Tans is net 3 modelle plaaslik beskikbaar: E200 petrol, E220d en E350d. E250, E400 4matic, E43 AMG en E63s (almal petrolenjins) sal in die verloop van 2016 / 2017 plaaslik debuteer. Al die modelle word deur die agterwiele aangedryf met Mercedes se nuwe 9G outomatiese ratkas. Hierdie ratkas het tydens die bekendstellingsrit in al drie modelle beïndruk met soomlose skakeling selfs toe ons die “Sport” modus geselekteer en met die ratspane agter die stuur gespeel het. 

 

Die E200 is die enigste petrolenjin tans in die reeks en kom met die beproefde turboaangejaagde 1991cc 4-silinder enjin wat ook in die huidige C-klas te vinde is. Pieksyfers word aangegee as 135kW en 300Nm met ‘n verrassend vinnige 0-100kpu lopie van 7,7 sekondes en ‘n amptelike brandstofsyfer van 5,9l/100km.

n Geheel nuwe 2.0 liter aluminium turbodiesel doen diens in die nuwe E220d in plek van die 2,2l turbodieseloond. Met 143kW en 400Nm beskikbaar by piekverrigting, word die 0-100kpu in slegs 7,3 sekondes afgedraf. Dit is ongelooflike verrigting vir ‘n twee liter turbodiesel gegewe die nuwe E-klas se grootte en luuksheid. Wat meer verstom is die amptelike brandstofverbruik wat aangegee word as slegs 3,9l/100km in ‘n gekombineerde siklus! 

 

Die topmodel tans beskikbaar is die E350d wat aangedryf word deur ‘n 3.0 liter V6 turbodiesel. Piek kraglewering word aangegee as 190kW met ‘n fris 620Nm se trekkrag word die 0-100kpu in ‘n indrukwekkende 5,9 sekondes afgeblits! Mercedes sê die E350d drink slegs 5,1 liter diesel vir elke 100 kilometer afgelê in ’n gekombineerde siklus van stedelike en ooppad ry.

 

Tydens die bekenstellingsrit het die nuwe E-klas beïndruk met min pad- en windgeraas asook ‘n sublieme ritgehalte. Laasgenoemde grootliks te danke aan die onderstel en veerstelsel met drie verskillende ritmodusse naamlik, “Agilty Control”, “Dynamic Control” en vir die eerste keer beskikbaar in ‘n E-klas ook Mercedes se veelgeroemde “Magic Carpet Ride”- lugvering wat in die S-klas gedebuteer het. Nog ‘n slim stelsel in die nuwe E-klas is wat Mercedes “Drive Pilot” noem en is ‘n verdere tree in die rigting waar motors uiteindelik sonder bestuurder invloed self sal kan bestuur.

 

Kan jy jou indink dat jou motor jou vroegdag by die kantoor gaan aflaai, terugry om die kinders betyds by die skool te gaan besorg en dan weer terug huis toe om vir vroulief by die ingang van die inkopiesentrum te gaan aflaai om dan self parkering te gaan soek. Later op mevrou se oproep te reageer om haar en die inkopies by die ingang te gaan inwag, die kinders dan by die skool te gaan optel en dan laatmiddag geduldig vir jou in ‘n parkeerplek naby die werk te wag tot jy met jou slimfoon laat weet – “gereed in 5 minute”!

 

Drive Pilot” is Mercedes se voorloper tot bogenoemde scenario en kan tans met jou (steeds agter die stuur!) binne in ‘n baan bly tot op 130kpu, ‘n volgafstand hou tot en met ‘n spoed van 210kpu en  as die motor voor jou spoed verminder, ook so maak en selfs totstilstand stop in verkeer – steeds met die volgafstand in plek! Die stelsel lees selfs die verkeerstekens asook die navigasiestelsel om binne die heersende spoedgrens te bly.

 

Die voertuig “sien” ook voetgangers, stilstaande of stadigbewegende verkeer en help jou om moontlike botsings te vermy en sal in die proses as jy die stelsel se waarskuwings bly ignoreer, selfs die E-klas tot stilstand bring as jy nie reageer nie. Verder kan die stelsel parkeerplekke identifiseer en die E-klas outonoom in daarin parkeer deur self ratte te verwissel en wanneer klaar geparkeer is, die motor in “Park” te sit en af te skakel. Met “Remote Parking Pilot” kan jy jou E-klas in en uit beknopte motorhuise en parkeerplekke met ‘n afstandbeheer applikasie vanaf jou slimfoon navigeer.  So almal klim uit en daar “bestuur” jy jou E-klas met afstandbeheer tot in die parkeerplek, skakel die enjin af en sluit die motor.

 

n Verdere veertjie in die E-klas se hoed is die hoëresolusie “MULTIBEAM LED” hoofligte. Elke hooflig het  84 individueel beheerde hoë verrigting LED liggies wat die pad vorentoe en soms ook sywaarts belig met ‘n uitsonderlike skerp lig sonder om ander padgebruikers te verblind. Elke liggie fokus en  skakel afsonderlik aan en af en verander na mate die padtoestand en omstandighede wissel. Dit word elektronies beheer deur die E-klas se innoverende “Intelligent Light System”.

 

Mercedes se nuwe E-klas stel nuwe standaarde vir sy segment met stelsels wat die grense van tegnologiese en elektroniese toerusting in passassiermotors verskuif. Wat anders sou jy verwag van die Einstein van sy klas?

 

PRYSE:

E200 – R707 100

E220d – R759 100

E350d – R958 300

(CO2-emissie belasting en Mercedes-Benz  se 6-jaar/100 000 km onderhoudsplan ingesluit).

e-class-5 e-class-9 e-class-15 e-class-20