NUWE TATA BOLT Bied uitstekende waarde in sy segment Deur Dirk Gallowitz

NUWE TATA BOLT  Bied uitstekende waarde in sy segment Deur Dirk Gallowitz

 

 

Die Indiese motorvervaardiger wat deel vorm van die reuse TATA konglomoraat met dieselfde naam, het sedert 2004 reeds meer as 60,000 motors en ligte handelsvoertuie in Suid Afrika verkoop en gaan van nou af die boute losmaak om as ‘n gerekende handelsnaam in die plaaslike motormark erken te word.
Vir die doel het Tata onlangs plaaslik ‘n nuwe motortjie in die B-segment bekend gestel en gaan ook met nuwe ywer programme loods om die handelsnaam groter blootstelling te gee en naverkoopdiens te verbeter.

 

 

Die nuwe Bolt kom in twee modelle, ‘n sedan en ‘n luikrug, elk beskikbaar in twee afwerkingsvlakke (XT en XMS) met ‘n keuse van vyf bakkleure. Tata verwag dat die luikrug nagenoeg 70% van die plaaslike verkope van die Bolt reeks gaan toeëien.

Die Bolt is die gesamentlike ontwerpproduk van Tata se drie internasionale ontwerpateljees wat in Pune (Indië), Coventry (Engeland) en Turin (Italië) gesetel is, en is vir die eerste keer in 2014 by die Delhi Motorskou aan die wêreld se media gewys. Die eerste Bolts is in Januarie 2015 in Indië verkoop.
Tydens die plaaslike bekendstelling was dit duidelik dat die nuwe Bolt ‘n groot sprong vorentoe is van die vorige Tata motortjies wat hier verkoop is. Die ontwerpstyl is wat Tata noem, “The Human Line”. Die Bolt lyk heel oulik met die bougehalte op die oog af redelik goed en is die eerste produk van Tata Motors se “HorizoNext” strategie wat ten doel het om twee nuwe Tata modelreekse elke jaar vir die volgende vyf jaar te produseer. Tata se span ingeneurs laat hulle lei deur die moedermaatskappy se filosofie wat as “Confident Dynamism” bekend staan en op drie bene genaamd “Design, Drive and Connectivity” fokus.

Tata glo, en staaf hul strategie met heelwat navorsing in die Suider Afrika konteks, dat die A en B-segmente, gegewe die huidige ekonomiese afkoeling, die enigste werklike groeipotensiaal gaan bied in die volgende paar jaar. Gevolglik teiken Tata in hierdie segment veral die swetterjoel modelle vanuit Europa, Korea en Japan.

Terug na die Bolt. Die karretjie is 4 meter lank met die wieletjies op die vier hoeke geplaas vir goeie stabiliteit en hantering. Tydens ons bekendstellingsrit het ons die Bolt via verskeie snelweë en stedelike roetes tot by Zwartkops gery waar ons dit deur ‘n prettige ”Gymkana”-kompetisie gelooi het. Hantering is verbasend goed en stabiliteit onder “stress” het ook beïndruk. Ons het ook die Bolts met ‘n besparingsrit vir “Beste Brandstofverbruik” geneem en die wenners het meer as 24 kilometer per liter behaal!

Binnekant bied die Bolt sitplek vir 5 volwassenes, bygesê hulle moet verkieslik nie almal 6 voet lange rugbyspelers wees nie. Die kajuit is aangenaam afgewerk en die instrumentasie en standaardtoerusting het verras vir motors in hierdie segment. Onder die indrukwekkende lys van standaardtoerusting is lugversorging (die luukser XT model bied klimaatbeheer), elektriese vensters en elektries verstelbare kantspieëls. Die petroltenk se deksel en die bagasiedeksel kan ook van binne die voertuig oopgemaak word. Die bagasieruim bied 210 liters in die luikrug, met die sedan wat 360 liters kan sluk.

Klasleidend vir hierdie segment, bied die Bolt ‘n 5” infotainment kleurskerm middel bo in die voorpaneel waarop die klankstelsel, slimfoonkoppeling en Bluetooth kommunikasie beheer kan word, asook ritinligting soos ondermeer brandstofverbruik ens. Daar is ook skakelaars op die stuurwiel om sekere van die basiese funksies te beheer.

Die Bolt-reeks gebruik Tata se 1.2-litre Revotron turboaangejaagde petrol enjin wat 66kW se piekkrag by 5000rpm lewer met 145Nm se piek wringkrag tussen 1500-4000rpm. Die enjin bied drie verrigtingmodusse naamlik “Sport”, “Eco” en “City”. Aandrywing is deur die voorwiele via ‘n 5-gang handratkas, maar Tata beplan ook ‘n outomatiese ratkas vir 2016 in SA.

Tata plaas ook ‘n hoë premie op veiligheid met die Bolt reeks en beide modelle kom goed toegerus vir die B-segment. ABS met EBD vir die skyf-en dromremme sluit ook ‘n stelsel in waar die remme help in draaie. Die Bolt kom standaard met ‘n alarm/immobiliseerder met afstandbeheer om die motor te sluit. Lugsakke vir die bestuurder en voorste passassier, deure wat outomaties sluit wanneer ‘n sekere spoed bereik word asook dagryliggies, maak die Bolt-reeks ‘n aantreklike pakket vir baie kopers in hierdie prysklas.

In terme van die “ConnectNext”- filosofie het die Tata witjasse saamgewerk met die oudio spesialiste by Harmon om die klankstelsel in die Bolt-reeks te ontwikkel.Die stelsel ondersteun ondermeer video deur middel van USB en SD-kaartkoppeling, sowel as stemopdragte en kan ook sms’e ontvang en terugspeel.

Die Tata Bolt reeks bied uitstekende waarde en behoort vele nuwe kopers in ‘n stram motormark te lok.

Bolt Modelle Prys
Bolt Luikrug XMS R132 995
Bolt Luikrug XT R142 995
Bolt Sedan XMS R142 995
Bolt Sedan XT R152 995

Alle Bolt modelle kom standaard met ‘n 5jaar/100 000km fabriekswaarborg, ‘n 2 jaar/30 000km diensplan en ‘n 5 jaar padbystanddiens.

Bolt _0004