Nuwe Toyota Etios Sprint Artikel: DIRK GALLOWITZ

Nuwe Toyota Etios Sprint Artikel: DIRK GALLOWITZ

Toyota SA het onlangs in die Ooskaap hul gewilde klein Etios modelreeks uitgebrei met die toevoeging van die nuwe Sprint variant, en ons was daar.

Die Sprint vervang die ou Xs-model en word geposisioneer tussen die intreevlak Xi-model en die Etios Cross. Volgens Toyota SA word die Sprint gerig op kopers vir wie die voorkoms van hul motors  belangrik is. Gevolglik is die Sprint ‘n bekostigbare Etios met ‘n sportiewe visuele voorkoms. Daar is ook so ‘n skeutjie aggressie in die wyse hoe die Sprint vertoon.

Terwyl die Cross-model steeds slegs in ‘n luikrugweergawe beskikbaar is, word beide die Xi en Sprint modelle in luikrug en sedanweergawes te koop aangebied. Die laairuimte van die sedan modelle het beïndruk en kan gemaklik die die bagasie van ‘n klein gesin hanteer,

Buite is die die grootste verandering by die Sprint-modelle die nuutontwerpte sierrooster. Voor onder strek die luginlaat nou oor die breedte van die neus met ingeboude kolligte wat met chroom omsoom is op die hoeke. Die sierrooste swiep na die kante met twee “horingagtige” punte wat effe opwaarts draai tot teenaan die hoofligte. Die Toyota-kenteken is prominent in die middel geplaas.

Aan die agterkant is daar nou ‘n plooi in die buffer  terwyl nuutontwerpte 15” allooiwiele die kantprofiel van die Sprint verfraai. Die Xi-intreevlakmodel kom egter standaard met 14’ staalwiele.

Binnekant is die kajuit ten beste maar spartaans, tog vertoon of voel dit geensins goedkoop nie. Al drie die modelle het klein aksentveranderings in die kajuit ondergaan om dit ‘n meer moderne voorkoms te gee.

Aandrywing geskied steeds met Toyota se 1,5 liter petrol enjin wat 66kW en 132Nm se piekverrigting na die pad lewer deur die voorwiele via ‘n 5-gang hantratkas.

Ons het die klein Sprint vir ‘n paar draaie rondom die bekende Oos London renbaan gelooi (terloops hierdie renbaan het al renne aangebied in die vroeë 1930’s asook die heel eerste Grand Prix ren in Suid Afrika in 1934)en was heel beindruk oor hoe stabiel die motortjie gevoel het toe ons platvoet deur die draaie geskuif het. Die remme was goed asook verrassend goeie greep deur die draaie.

Vandaar het ons kuslangs oor Port Alfred na Port Elizabeth gery. Terwyl ons die pragtige Ooskaap se natuurskoon bewonder het, was die rit heel aangenaam en genotlik in die klein Etios. Die sitplekke het goeie steun gebied met relatiewe min pad en windgeraas op die ooppad. Toyota SA gee brandstofverbruik aan as 6.0 liter per 100 kilometer en ons het daardie verbruik gemaklik op die oop pad behaal.

Die  nuwe Sprint is ‘n welkome toevoeging tot die Etios modelreeks, veral vir daardie kopers wie se beursie nie kan bekostig om ekstra te betaal vir ‘n sportiewe voorkoms nie.

 

Pryse vir die Etios-reeks

 1.5 Xi Luikrug                   R163,900

 1.5 Xi Sedan                     R172,200

 1.5 Sprint Luikrug           R172,600

 1.5 Sprint Sedan             R180,500

 1.5 Cross                           R194,300