O Kwid, dis ‘n Renault! Sakpas klein Fransman met uitstekende aanbod bekendgestel Deur Dirk Gallowitz

O Kwid, dis ‘n Renault! Sakpas klein Fransman met uitstekende aanbod bekendgestel Deur Dirk Gallowitz

‘n Knypende ekonomie met stygende brandstofpryse wurg kopers van nuwe motors om al hoe kleiner te gaan. Met ‘n swakker wisselkoers wat nuwe motors se pryse jaarliks laat styg en verkope wat die afgelope paar jaar laer duik, sukkel motormaatskappye om nuwe modelle van die vertoonvloer af te verkoop.

 

Motorvervaardigers soek gevolglik na goedkoper alternatiewe en baie gevestigde handelsname het al vervaardigingsaanlegte in Indië, die Verre Ooste en China opgerig ten einde die voordele van goedkoper arbeid te geniet. Verder word platforms gedeel en goedkoper materiale word al meer gebruik by  afwerking binne en buite. Elektroniese katoetertjies en fieterjasies in die kajuit word as opsionele ekstras aangebied om die basisprys so laag as moontlik te hou.

 

Die Kwid is juis so ‘n produk, terloops moenie wonder waar die naam “Kwid” vandaan kom nie, want Renault SA weet ook nie. Gebou in Indië is die Kwid ‘n oulike klein luikrug tipe sportsnutsagtige buksie wat aan Renault se Sandero herinner (net veel mooier) en deel ‘n onderstel met Datsun se GO Plus, ook ‘n buksie sportsnuts tipe wat slegs in Indië verkoop word. Die Kwid vang visueel die oog met ‘n prominente en aggressiewe neus en uitgeboude wielboë. Die buksie vertoon astrant speels met ‘n kort breë lyfie en ‘n pens wat wat 180mm bo die grond staan. Verder is daar plastiek beskerming onder voor by die neus, agter onder die stert en ook breë plastiekstroke wat die uitgeboude wielboë omsoom om die sportsnutsvoorkoms te beklemtoon. Die deure het ook breë plat stroke onder teen die kant vir as jy met jou Kwid tussen die bossie wil gaan speel.

Binnekant is die kajuit verbasend ruim en met my 1.85 meter lange lyf was daar steeds genoeg kopruimte. Die kajuit is groot genoeg vir vier volwassenes en die bagasie ruim behoort ‘n normale gesin se maandelikse kruideniersware te kan akkommodeer. ‘n Spaarwiel is standaard ingesluit. Ek hou van die afwerking in die binneruim. Dit vertoon modern met rooi en chroom afwerking in die oorheersend swart kajuit. Instrumentasie is oulik uitgedink met een groot ovaalvormige paneel voor die bestuurder. Daarin  is ‘n groot digitale spoedlesing in die middel (selfs swaksiendes behoort dit maklik te kan raaksien) met brandstof- en temperatuurlesings aan weerskante, maar geen toerenaald nie. ‘n Ritrekenaarlesing is onder die spoedlesing te sien. Middel bo in die voorpaneel is ‘n groot tabletagtige ovaal waaronder die knoppe vir die lugversorger is. Laer ondertoe is die skakelaars vir die elektriese vensters geplaas. Ons het die duurder modelle tydens die bekendstelling bestuur wat ‘n raakskerm bied. Die stelsel bied SatNav, klankstelsel asook koordlose koppeling met ‘n slimfoon.  USB koppeling en ‘n 12v sok is standaard ingesluit.  

 

Die Kwid word aangedryf deur ‘n 1liter 3-silinder petrolenjintjie met aandrywing na die voorwiele deur ‘n 5-spoed handratkas. Maksimum krag is 50kW en wringkrag piek by 91Nm. Topspoed is 152kpu en amptelike  brandstofverbruik word aangegee as 4,7l/100km. Tydens die bekendstelling het ons die Kwid teen die kus van KwaZulu Natal noord van Durban gery en versnelling op die ooppad was heel gaaf. Met die kenmerkende skor gebrul van die 3-silinder was stadsverkeer en ooppad ry aangenaam. Die wind het egter sterk gewaai en met die terugkeer lughawe toe teen die wind kon ek agterkom die klein enjintjie se keel trek toe teen die steil bulte uit.

Moenie hantering en paddinamika van ‘n sportmotor verwag nie want die Kwid is vir intreekopers wat meesal stadsverkeer gaan ry. Renault bemark die Kwid teen R119,000 vir die goedkoper Expression en R129,000 vir die beter toegeruste Dynamique model. Wat die aanbod soveel meer aantreklik vir eerste keer en jong kopers maak, is dat jou eerste jaar se paaiement sluit ook omvattende versekeringsdekking in. Dit is ‘n meevaller wat maklik meer as R10,000 kos per jaar kan beloop as jy dit self moet hoes!

Met ‘n maandelikse paaiement van R1999, versekering ingesluit bied die Renault Kwid ongeëwenaarde waarde. Voeg daarby Renault se 5j/150,000km waarborg en jy het ‘n wenner.    

renault-kwid-83662-cityred renault-kwid-detail-rear-3q renault-kwid-dynamique-interior-86234