Peugeot 308 Johann van Tonder

Peugeot 308  Johann van Tonder

Dis nie elke dag dat jy ’n Europese Motor van die Jaar bestuur nie. Dis reg, terwyl Peugeot plaaslik nog hul deel van die markaandeel moet oop kap, gedy die fabrikaat in ander markte. Hoe is dit dat Suid-Afrikaners die fabrikaat nog nie weer aanvaar het soos in die jare tagtig nie? Of is ons bloot so verknog aan ons bekende fabrikate dat ons nie die voertuie ook toetsbestuur voor on sons besluit neem nie?

Peugeot SA het in 2015 die Peugeot 308 luikrugmodel bekendgestel. Die model is sedert 2014 in Europa beskikbaar en het in dieselfde jaar die gesogte 2014 Europese Motor van die Jaar-titel ingepalm. Hierdie prestasie is in beide 2015 en 2016 opgevolg met die Enjin van die Jaar toekenning. Dus is die plaaslike persepsie oor Peugeot wat nog onder sommige verbruikers heers, totaal ongegrond. Hierdie is ‘n wenner motor in veel meer as een opsig.

 

Binnelangs is die kajuit uitstekend afgewerk met ‘n ambiaans van luuksheid. Die materiale wat gebruik is vir die sitplekke en selfs die plastiek afwerkings voel en lyk duursaam. Peugeot se witjasse het ook heelwat klem geplaas op ontwerpdetail en veral die voorpaneel en instrumentkonsole is treffend met ontwerplyne wat ook elders in die motor gebruik word. Die instrumente is hoog geplaas met die klein sportstuurwiel laer wat vir ‘n gemaklike bestuursposisie sorg. Die stuurwiel is ondermeer toegerus met skakelaars vir die radio/klankstelsel, telefoon en spoedbeheer. Ons het ook gehou van die sportsitplekke wat baie gemaklik sit en lekker steun bied. Die agterste sitplekke kan 60/40-verdeel om die bagasiearea te vergroot na gelang van behoefte.

 

Die nuwe 308 se hoekige ontwerplyne is veel treffender as die vorige model se ronder kurwes. Verder lyk die nuwe model ook meer soos ‘n luukse Duitse luikrug en is veral die agterkant treffend op die oog.

Gebou op Peugeot se nuwe generasie “Efficient Modular Platform 2 (EMP2)”, is die nuwe 308 meer kompak as sy voorganger van buite, maar die kajuit het binne verbasend ruim gevoel. Met EMP2 is daar ook heelwat gewig bespaar wat ‘n gunstiger krag-massa-verhouding bied om sodoende paddinamika en brandstofverbruik aansienlik te verbeter.

 

Die Peugeot 308 is nou beskikbaar in vier modelle. Die intree 1.2 PureTech Active kom toegerus met ‘n drie-silinder 4-klep turbo-aangejaagde PureTech e-THP 110 enjin wat ‘n heel gewillige 81kW lewer teen 5500rpm en 205Nm se wringkrag vanaf 1500rpm. ‘n 5-Spoed handratkas is standaard. Ons toetsmodel was egter een van die twee GT Line -modelle, nou toegerus met ‘n 6-spoed outokas. Hierdie luukser model kom met ‘n  1.2 PureTech e-THP 130 enjin wat getoor is om 96kW @ 5500rpm en 240Nm vanaf 1750rpm te lewer. Die model is ook beskikbaar met ‘n 6-spoed handratkas. Laastens is daar ook ’n 1.6 turbo model wat 151kW en 285Nm lewer.

 

Gedurende ons week met die Peugeot was ons mateloos beïndruk met die verrigting en paddinamika van die 308 GT-Line. Die versnelling en trekkrag van die 96kW driesilinder enjin kan vergelyk word met ‘n 1.6 liter normaal ge-aspireerde viersilinder enjin. Verder het die uitstekende onderstel en vering van die 308 vir uitstekende padhouvermoë gesorg selfs teen relatief hoë spoed op glibberige grondpaaie. Die nuwe outomatiese model sorg vir ‘n sorgvrye rit, nie net in die verkeer nie, maar ook op die oop pad, met seep gladde ratwisselings wat gebeur sonder dat jy dit sal agterkom. En sou jy die krane bietjie wou oopdraai kan die ratte ook self gewissel word.

 

Die 2015 Peugeot 308 kom standaard met ‘n 3jaar/100 000km vervaardigers waarborg, ‘n 5jaar/60 000km diensplan, ‘n 3jaar/100 000km padbystanddiens en ‘n 5-stêr Euro-NCAP veiligheidsgradering.

img_6543 img_6555