Shanghai Motorskow ‘n broeines vir kwaai karre

Shanghai Motorskow ‘n broeines vir kwaai karre

Wat  ʼn absolute belewenis! Die 2017 Shanghai Motorskou het my voete onder my uitgeslaan vir twee redes: 1) mens stap jou ore van jou kop af; en 2) die motors wat daar ten skou was was letterlik uit die boonste rakke. Alhoewel ek vir  ʼn week in China was en my lyf bietjie toeris gehou het, was die een dag wat ek by die skou kon wees net nie genoeg nie. Daar is té veel om te sien, té veel om na te verneem, té veel foto’s wat ek nog wou neem, ensovoorts, ensovoorts.

Nietemin, die Shanghai Motorskou was gróót en vervaardigers het hul beste voetjie (lees: voertuie) voorgesit. Hier is  ʼn paar hoogtepunte wat Suid-Afrikaners raak:

Die Duitsers en hul dinge

Audi het hul R8 Spyder en RS3 sedan kom wys. Albei is hoë verrigting motors en maak  ʼn lekker lawaai, maar die een wat die hartsnare die meeste roer is die RS3 sedan. Dis die eerste keer dat hierdie motor in sedan-gewaad beskikbaar is en in my opinie, mag dit dalk net die sportskar van die jaar wees…

Vir BMW was die groot nuus die onthulling van sy M4 CS. Nou die CS, of te wel die Club Sport, vul die gaping tussen die M4 Competition Pack en M4 GTS en die 3.0liter reguit ses se kragsyfer staan nou op 338kW. Dit beteken  ʼn 0-100km/h versnltyd van 3.9 sekondes (Regtig!) en  ʼn topspoed wat elektronies tot 280km/h beperk word. Hierdie wa kom in die derde kwartaal na SA.

Mercedes het hul opgeknapte S-Klas kom wys, asook heelwat ander konsepte; soos die A-Klas sedan. Wat bietjie vreemd is, want vervul die CLA nie reeds daardie rol as sedan weergawe van die A-Klas nie? Maar die oomblik het sonder twyfel aan die AMG GT R behoort. Hierdie kar, die hoogtepunt van Merc se vermoëns en kennis, was op die Nürburgring in Duitsland ontwikkel en het die bynaam “Monster van die Groen Hel” gekry. Hoekom? Omdat dit net so deksels goed is! Hierdie meneer land gedurende Mei in SA.

Super vinnige Ferrari

Ferrari se show stopper was die onthulling van hul 812 SuperFast. Nou, die Superfast is geskoei op die F12 Berlinetta, maar sy 6.5-liter V12 enjin is van die grond af nuut gebou. Dit ontwikkel  ʼn aardskuddende 590kW en 718Nm. Maar wat lekker is is dat daardie 590kW eers teen 8500rpm beskikbaar is! So hierdie kar gaan raas en klap dat dit bars en jou meer sal laat glimlag as  ʼn Saterdagaand by Teazers. En nou vir die hartseer gedeelte: slegs 209 eenhoude gaan gebou word en elkeen van hulle het reeds  ʼn eienaar. So, ja…

En die fietse

Harley-Davidson het ook kom fiets wys, so ook Aprilla en BMW. Maar Ducati was aan die brand met hul fietse. Daar was die 959 Panigale,  ʼn Monster en  ʼn Scrambler. En dan ook  ʼn paar stads- en avontuurfietse. Ducati se aanslag op 2017 is definitief aan die brand en die produkte waarmee hulle die jaar gaan aanvat is in die kol.