SMART BRABUS Klein, maar vinnig!

SMART BRABUS Klein, maar vinnig!

Artikel: Dirk Gallowitz & Johann van Tonder. Fotos: Rosalyn van Zyl

 

Gedurende 2016 het SMART sy derde generasie mikromotortjies in Suid Afrika bekendgestel. SMART is aanvanklik deur die bekende horlosiemaker SWATCH as ‘n konsep begin, maar is in die middel 90’s deur Daimler-Benz oorgeneem en verder ontwikkel. SMART is derhalwe die akroniem vir “Swatch Mercedes ART” en die konsep is so uitsonderlik en slim dat dit selfs ‘n permanente plek in New York se Museum of Modern Art gekry het.

 

Die SMART het veral gewildheid verwerf onder Europa se jonges in digbevolkte stede met hul nou strate en klein (ook skaars) parkeerplekke. Met die bekendstelling het Mercedes SA beide die ForTwo (tweedeur) en ForFour (Vierdeur) weergawes beskikbaar gestel. Slegs een kragbron was aanvanklik beskikbaar nl, die 1.0 liter 3-silinder petrolenjin wat 52kW en 91Nm se piekkrag lewer en kom met ‘n 5-spoed handratkas. ‘n Turboaangejaagde 900cc petrol weergawe wat 66kW en 135Nm lewer, toegerus met ‘n 6-spoed dubbelkoppelaar ratkas, is later tot die modelreeks bygevoeg. Nou het Brabus, die spesialis maatskappy in Mercedes verrigting modelle, ook die SMART beetgekry en die vinnigste en kragtigste SMART tot nog toe gebou.

 

Verskeie veranderinge is aangebring. Behalwe dat die Brabus SMART homself visieel onderskei met sportiewer stilering binne en buite, is die enjin getoor om nou 80kW en 170Nm te lewer. Die DCT-ratkas is aangepas vir die sportiewer gedrag met 40% vinniger ratwissel reaksietye en korter ratverhoudings, asook ‘n RACE STARTfunksie wat die klein motortjie optimaal laat wegspring by die robot. Die stuur, sport-vering, brandstof druk en uitlaatstelsels is als aangepas om optimale verrigting uit die klein motortjie te kry. ‘n Stormlopie van 0 – 100km/h neem 9,5 sekondes, maar moenie dat die syfer jou flous nie. In stads omstandighede versnel jy selde tot by 100km/h en met sy klein ligte lyfie is die Brabus SMART besonder rats in die verkeer.

 

Die klein kompakte SMART is ideaal vir stadsverkeer en parkering in klein ondergrondse parkeergarages,  met veral die ForTwo wat omtrent in ‘n hysbak kan inpas! Die nuwe ForFour kan egter twee passasiers saamkarwei as jy en jou pelle bietjie in die stad wil gaan rondrits. Visueel lyk die modelle heel treffend. Binnekant is die kajuit verbasend ruim met veral die panoramiese glasdak in die Brabus wat bydra tot die gevoel van ruimte. Ontwerp en instrumentasie en uitleg is modern, sportief en treffend op die oog. Daarby is daar verskeie aktiewe en passiewe veiligheid stelsels met ABS met EBD, remhulp, traksiebeheer, stabiliteitsbeheer en 5 lugsakke is ondermeer standaard. Die Brabus toetsmodel was ook toegerus met ekstra veiligheidstelsels wat dwarswind stabiliteit bied asook wat SMART “forward collision assist” en “lane keep assist” noem.

  
Tydens ons rit het die Brabus SMART beïndruk met sy begeesterde, tog gerieflike gedrag in beide stadsverkeer asook op die oop pad. Dis ‘n motor wat jou laat glimlag as jy hom sien, en breër laat glimlag as jy hom ry. Inderdaad pret op wiele wat jou dag op helder en jou jonk van gees hou. Boonop is daar onlangs op die Geneva Motorskou ook ‘n Cabriolet weergawe van die Brabus ForTwo gewys.

 

Die SMART ForTwo verkoop vanaf R174 900 terwyl die Brabus weergawe jou vanaf R308 200 uit die sak sal jaag.