Subaru Outback Die slim keuse Deur Dirk Gallowitz

Subaru Outback Die slim keuse Deur Dirk Gallowitz

Noem die naam Subaru en meeste petrolkoppe kry herinneringe aan glansblou Scooby’s wat met goue wiele en groot drukvlerke die grondpaaie op tydrentrajekte opvreet dat net stof en klippe trek.

Dit ook, maar dat Subaru al vir jare reeds ‘n viertrek stasiewa bou wat die toets van tyd deurstaan het, is ongelukkig minder bekend. Subaru se Outback, soos Volvo se XC70, is ‘n sagtebaard sportnuts. Die nuutste Outback bied ruimte, weelde, gemak, uitstekende hantering en ‘n lekker rit. Voeg daarby soliede bougehalte, ‘n bewese viertrekstelsel, goeie enjins en uitstekende hantering en daarmee dan het jy al die bestandele vir ‘n uitsonderlike motor.

“Beauty is in the eye of the beholder” sê die spreekwoord, maar ek sal nou nie geld wed dat Subaru’s pryse sal wen vir voorkoms nie – daarvoor is die ontwerp te argaïes en die neus te “butch”.
Okay, Subaru eienaars gaan van my verskil, maar neem in ag dat as jy blykbaar een maal ‘n Subaru besit het, die kans groot is dat jy begrawe gaan word as ‘n Scooby eienaar. Ek het ook “op goeie gesag” verneem dat Subaru’s menigmaal in hofdokumente as oorsaak voorgehou word vir egskeiding, maar ook dat die klank van daai Boxer-enjin as motivering gegee word aan sielkundiges hoekom daar liefs maar langer en harder klippe gekou sal word in die verhouding, eerder as om dalk na egskeiding sonder die Scooby te eindig! Ons sal nooit verseker weet nie, maar wat ons wel weet na ‘n week agter die stuur van die jongste Outback Diesel, is dat die Outback seker die mees onderskatte kar in sy segment is. Ons toetsmotor was die 2015 Subaru Outback 2.0 Diesel met ‘n palwissel(CVT) ratkas.

Die Ouback is jou tipiese stasiewa, maar met ‘n lekker grondvryhoogte. Dit is ‘n groot breë kar met sterk aggressiewe lyne. Die verstelbare dakreëlings en 18” wiele met lekker dik 60-profielbande gee ‘n onmiskenbare sportiwiteit aan die Outback se voorkoms. Voor is die neus gemoderniseer met LED dagryliggies in die hoofligte wat op die hoeke skuins na agter swiep.

Binnekant is die kajuit ruim met ‘n verbasende luukse gevoel in materiale en afwerking, vergeleke met die vorige model. Die uitleg is ergonomies goed en die instrumentasie vertoon sportief en modern.
‘n Nuwe raakskerm middel bo in die instrumentepaneel beheer die klank-, inligting- en Bluetooth telefoonstelsel. Die stelsel werk intuitief en gemaklik en vertoon ondermeer ook die beelde vir die parkeerhulp se tru-kamera. Verder is daar ook klimaatbeheer, spoedbeheer, ‘n elektriese sitplekverstelling vir die bestuurder asook ‘n elektriese beheerbare agterklap as standaard toerusting ingesluit.

Ons toetsmotor se 2.0 Diesel (110kW en 350Nm) bokser enjin is ‘n juweel. Die dieselenjin loop stil en lewer heerlike verrigting vanaf lae toere danksy die wringkrag wat al vroeg (1600rpm) in die toerestrek beskikbaar is. Aandrywing is deur al vier wiele met Subaru se bewese “Simmetrical All Wheel Drive” via Subarau se “ Lineartronic Continuously Variable” palwissel outokas. Ek is ‘n groot kritikus van palwisselkaste (CVT’s), want dit klink en voel gewoonlik asof die koppelaar gly wanneer versnel word, maar Subaru se jongste CVT ratkaste is die uitsondering. Dit is glad, soomloos en sonder die “o-hel-die-clutch-gly”-gevoel! Dit is na my mening die beste ratkas van sy soort beskikbaar.

Die Outback en Forrester modelle was altyd my maatstaf vir grondpad ry en die jongste Outback is in die aspek selfs ‘n verbetering op die vorige modelle. Uitsondelike hantering, ritgehalte, stabiliteit en padhouvermoë, veral en spesifiek op grondpaaie, laat die Outback uittroon bo mededingers in sy segment. Daar is ook veel duurder hardebaard en luukse sportnutse wat nie hier by die Outback sal kan kersvashou nie. Die waarheid is egter dat meeste mense wie sogenaamde sagter sportnutse gaan koop, nooit die Outback sal oorweeg nie, want dit vertoon meer soos ‘n stasiewa en meeste Suid Afrikaners is allergies vir stasiewaens. Dit is jammer, want die Outback klop sy kompetisie gemaklik daar waar dit saak maak.

Die Subaru Outback 2.0 Diesel verkoop teen R529,000-00 en kom standard met ‘n 3jr/60,000km diensplan.

outback-1