Suid Afrika se Top 10 gewildste motors – Julie 2016 Johann van Tonder

Suid Afrika se Top 10 gewildste motors – Julie 2016 Johann van Tonder

Gedurende die sewende maand van 2016 was daar heelwat groot wendings onder die topverkoperslys. Nuwe motorverkope gemeet jaar op jaar is 17% af, maar Ford het gewys wat gedoen kan word as daar op ‘n sekere model gefokus word. Oudergewoonte is VW se Polo Vivo SA se beste verkoper onder passasiersmotors, maar die Ford Fiesta het met ‘n verbetering van meer as 1000 verkope op die vorige maand vanaf die 8ste posisie opgeskuif na 2de. Dit relegeer die gewone Polo na die derde posisie.

Toyota behou steeds die volgende drie posisies, met die immergroen Fortuner wat se verkope voort stoom, ‘n besondere vertoning in ag genome die prys en segment waar die voertuig meeding. Die sewende posisie behoort steeds aan die Ford Ecosport terwyl die Renault Sandero, Toyota RAV4 en VW Golf terugkeer na die Top 10 in die laaste drie posisies. Die BMW 3-Reeks, Chev Spark en Renault Clio val uit die Top 10.

Onder die bakkies duur die tweestryd tussen Toyota se nuwe Hilux en die Ford Ranger voort. Na die Ranger vir drie maande nader gekruip het aan die eerste posisie, het die Hilux se bestendige verkope in ‘n moeilike mark weer ‘n verskil in verkope van meer as 800 eenhede oopgemaak. Isuzu maak hom weer tuis in die derde posisie met ‘n hupstoot in verkope, waarskynlik te danke aan die nuwe X-Rider model. Die 4de plek behoort ook aan die GM stal met die Chev Utility, terwyl die Nissan NP200 val van die 3de posisie na 5de. Die NP300 is 6de en VW se Amarok skuif op na 7de, ten koste van Toyota se Land Cruiser wat val na 8ste. Die Navara keer terug na die Top 10 in die 9de plek terwyl die Mahindra Scorpio sy 10de plek behou. Fiat se Fullback val na een maand uit die Top 10.

Top 10 Passasier voertuie verkoop in Julie 2016:

  1. Volkswagen Polo Vivo – 2452 (2354)
  2. Ford Fiesta – 1740 (716)
  3. Volkswagen Polo – 1595 (1987)
  4. Toyota Fortuner – 1418 (1405)
  5. Toyota Corolla/Auris/Quest – 1243 (1300)
  6. Toyota Etios – 923 (1009)
  7. Ford EcoSport – 867 (805)
  8. Renault Sandero – 522 (490)

  9. Toyota RAV4 – 441 (284)
  10. VW Golf – 435 (339)

    Top 10 Bakkies verkoop in Julie 2016:

    1. Toyota Hilux – 3153 (3072)
    2. Ford Ranger – 2305 (2848)
    3. Isuzu KB – 1297 (1043)
    4. Chevrolet Utility – 1143 (964)
    5. Nissan NP200 – 917 (1076)
    6. Nissan NP300 – 670 (664)
    7. Volkswagen Amarok – 351 (207)
    8. Toyota Land Cruiser PU – 343 (392)
    9. Nissan Navara – 171 (50)
    10. Mahindra Scorpio – 70 (66)

     

    Ons wys daarop dat Mercedes, Kia en Hyundai nie indiwiduele syfers bekend maak nie. Syfers is beskikbaar gestel deur NAAMSA.

    TF1 TH1