Suzuki Baleno Artikel & Fotos: Rosalyn van Zyl

Suzuki Baleno Artikel & Fotos: Rosalyn van Zyl

As spesialis kleinvoertuig vervaardiger kan jy maar notosie neem as Suzuki ‘n nuweling na die mark bring. En met die splinternuwe Baleno is dot ook nie anders nie. Hierdie luikrug behoort beduidende sukses vir Suzuki Suid Afrika te wees.

Die nuwe Suzuki Baleno het reeds sy wêrelddebuut in 2015 by die Frankfurtse Motorskou gemaak en versterk nou Suzuki se aanbieding met ‘n model pasgemaak vir ‘n jong familie wat meer ruimte nodig het as wat die gewilde Swift kan bied. Boonop is die Baleno kopswaai-mooi en lyk nie soos ‘n koolstof-kopie soos soveel ander motors op vandag se paaie nie. Veral van voor met die dagry liggies aan beindruk die vaartbelynde neus en staan die Suzuki uit tussen die ander verkeer, dit het ons nou self gesien. Suzuki het sy sogenaamde ‘Liquid Flow’-benadering vir die ontwerp van die nuwe Baleno toegepas. Dié konsep sorg vir vloeiende lyne van voor an agter, terwyl die aksentlyne aan weerskante die nuweling se vaartbelynde voorkoms benadruk. Die vaartbelynde voorkoms van die Baleno is nie net aantreklik nie – dit is ook lugdinamies doeltreffend, met ’n sleursyfer van net 0,299. Dit bevestig dat dié luikrugmotor die mees lugdinamies doeltreffende produksiemodel in Suzuki se huidige modelaanbod is.

 

Die nuwe Baleno, wat in pas tussen die Switf en die Ciaz, word aangedryf deur die veelbeproefde 1,4 liter K14B-enjin. Die onaangejaagde viersilinderenjin is reeds ’n gewilde keuse in die Swift-, Ertiga- en Ciaz-modelreekse, en lewer maksimumkrag van 68 kW by 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 130 Nm by 4 200 r/min. Die Baleno maak van ’n splinternuwe platform gebruik wat nie net spesifiek ontwerp is om besonder stewig te wees nie, maar ook om die algehele massa te verlaag. Hoewel die Baleno groter as die Swift is, weeg die nuweling 11 persent minder, met ’n rymassa van net 915 kg. Die laer rymassa het beter verrigting tot gevolg, omdat die krag-tot-massa verhouding gunstiger is, terwyl brandstofdoeltreffenheid ook by die laer massa baat. Boonop het dit ’n daadwerklik positiewe invloed op hantering en ritgrief. Hoewel dieselfde enjin deur die hele Baleno-modelreeks ingespan word, kan kopers tussen twee ratkaste kies: ’n vyfgang-handratkas en ’n outomatiese viergangratkas. Voorwielaandrywing is deurgaans standaard.

 

Die eerste indruk van die nuwe Baleno se binneruim is van ruimte: die kajuit voel aansienlik groter as wat ’n mens van ’n kompakte luikrugmotor verwag. Wat algehele afmetings betref, is die Baleno se kajuit 87 mm langer as die Swift se binneruim, wat uiteraard tot die indruk van ruimte bydra. Die bagasieruim het ’n laaikapasiteit van 355 liter wanneer die banksitplek in gebruik is. Dit kan tot 756 liter vergroot word deur die banksitplek plat te vou. Die algehele laaivolume tot by dakhoogte met die banksitplek platgevou bedra 1 085 liter. Die nuweling is dus veral geskik vir enkelinge en gesinne wat die bykomende gemak en gerief van ’n groter luikrugmotor verlang, maar nie die ratsheid en doeltreffenheid van die Swift prys wil gee nie.

 

Die nuwe Suzuki Baleno is met ’n keuse van twee toerustingvlakke beskikbaar. Die meer bekostigbare GL-weergawe is net in kombinasie met ’n handratkas beskikbaar, terwyl die deftiger GLX-modelle die keuse van ’n handrat- of ’n outomatiese ratkas bied. Die GL-model verkoop vir R199 900 terwyl ‘n luukser GLX-model jou R229 900 sal kos. Die outomatiese weergawe van die GLX sal jou R244 900 uit die sak jaag. Die nuwe Baleno word deur ’n standaardwaarborg van drie jaar/100 000 km gedek, asook ’n diensplan van vier jaar/60 000 km.