Suzuki Gixxer – Eienaars indrukke. Brian Cheyne

Suzuki Gixxer – Eienaars indrukke. Brian Cheyne

Dit was ‘n baie brawe besluit van Suzuki om die GSX emblem op hul klein pendel fietsie se sit. En toe gaan hulle ‘n trappie verder en verf hom nog in Suzuki blou. Hy lyk op ‘n keper soos sy groot MotoGp boetie. Die fiets vertoon groter as wat jy sou verwag van ‘n fiets met ‘n skamele 150cc enjintjie danksy sy vol kantpanele. Onder al die plastiek kan mens egter duidelik die ouer tegnologie sien. Die lugverkoelde vierslag enjin wat met ‘n vergasser aangedryf word is agter die nuwer, heelwat duurder fietsies met brandstofinspuiting en waterverkoeling, maar juis dit maak hierdie Gixxer ligter op die sak. Nogal slim in die huidige ekonomiese klimaat.


Die intrumentepaneel is ‘n baie moderne vloiekristal eenheid. Al die belangrike inligting is daar, insluitend ‘n brandstof meter, maar onder die tenk het die reserwe kraantjie steeds sy plek. In teenstelling met die Chinese aanbiedings in hierdie klas, beskik die Gixxer oor ‘n enkel skokbreker agter, maar die agterrem is nog ‘n drom rem. So verweef die ou tegnologie met die nuwe, maar as ‘n geheel werk dit. Nuwe tegnologie waar nodig, maar bestaande tegnologie waar dit nog voldoende is vir die aanwending.
Ek kon nog nie ‘n enkele hoek kry waaruit die Gixxer onooglik lyk nie. As jy jou been oor die fiets gooi, voel alles dadelik reg. Alles pas. My bene pas gerieflik onder die tenk in, en die handvatsels is gemaklik breed. Die ryposisie is redelik regop en nie soos superfietse se vooroor houding nie.
Dit is egter as die fietsie begin beweeg wat die glimlag op my gesig begin groei. Ek kon dadelik voel dat hierdie ‘n fiets is wat jy met gemak en selfvertroue in ‘n draai kan inleun. Die sleutelwoord hier is selfvertoue. My vrou, wat jare laas motorfiets gery het, het sommer gou haar sit gekry en die kleine Suzuki het dadelik ‘n indruk op haar gelaat. In die kort tydjie wat ek hom nou al ry, het hy my net beindruk. Suzuki het ‘n wennertjie hier beet. Met ’n slim kombinasie van moderne stilering teen bekostigbare prys, hoef pendelaars nie meer te lyk asof hulle pakkies vir die apteek aflewer nie. In see van saai fietse wat lyk of hulle uit die 80s dateer is die Gixxer ‘n vars briesie wat jou daaglikse pendel ‘n bietjie meer opwindend maak.
* Brian Cheyne is ’n ervare motorfietsryer wat sy klein Suzuki geniet deur die week, maar oor naweke sy Suzuki V-Strom 650 opsaal om die wêreld te gaan verken.

Suzuki