Suzuki V-Strom DL1000 Article and Photos: Brian Cheyne

Suzuki V-Strom DL1000 Article and Photos: Brian Cheyne

My eerste kennismaking met ‘n motorfiets was agterop Deon se Suzuki 1000GS. Ek was baie klein en het verbete vasgehou. Die eerste motorfiets wat ek self gery het was ook ‘n Suzuki. ‘n AC50. Gaan kyk gerus in die HAT onder “stylloos”. Daar is ‘n prentjie van die AC50. Maar dit het my geleer wat ek moes weet: hoe om motorfiets te ry.

My motorfiets loopbaan het ‘n reeks fietse ingesluit, en ek was nog nooit ‘n groot handelsmerk bewuste mens nie.  Vir my gaan dit oor ‘n fiets wat op daardie stadium aan my behoeftes voldoen. Jong manne soek krag en spoed, ouer ouens soek weer die gemak van ‘n “cruiser”, en hier tussen-in sit die middeljarige manne wat nie kan besluit watter kant van die draad hulle eintlik sit nie. Hier woel die mark met avontuur fietse en almal probeer hard om ‘n stukkie van jou begroting hulle s’n te maak.

Suzuki het al vir jare hulle V-Strom in twee groottes. Die 650 en die 1000. Die twee fietse het amper identies gelyk, behalwe vir die uitlaatpype. Die 650 het een, en die 1000, twee. Toe Suzuki in 2014 die 650 opgekikker het, was daar sprake dat die groot boetie ‘n stille dood sou sterf, maar die manne by Suzuki het deurgedruk en ‘n splinternuwe DL1000 die lig laat sien. Die 998cc V-twee enjin uit die vorige DL het gegroei tot 1037cc, en verder is feitlik alles nuut. Die fokus van die DL is ook geskuif om die fiets meer pad georiënteerd te maak. Die redenasie is: dit is tog maar waar hierdie klas fietse die meeste van hulle tyd spandeer. Die voorste vurke is onderstebo eenhede en die voorste knypers is radiaal gemonteer en toegerus met sluitwering. Die instrumente paneel is baie omvattend, en net die toere teller is analoog. Die tenkkapasiteit is verklein van 24 na 22 liter, maar Suzuki glo dat die verbetering in brandstof verbruik sal opmaak vir die verlies. Die saal is breed en sag en die afwerking lyk na materiaal waarop jy nie veel gaan rondgly nie. Die skerm kan ook verstel. Drie verstelling vir beide hoogte en hoek. Die agterste skokbeker is verstelbaar om te kompenseer vir ekstra lading.

Hierdie is ook Suzuki se eerste fiets met traksie beheer.  Min fietse het my al so uit die staanspoor beïndruk. Ek verstaan nie hoekom 0-100 syfers of top spoed vir baie mense so belangrik is nie. Hierdie fiets het vir my gevoel asof hy 160km/h kan ry, heeldag, vir ‘n week, sonder om eers te begin sweet. En wat wil jy meer hê? Ek is baie bly Suzuki het nie die handdoek ingegooi nie. Die 1000 V-Strom is ‘n baie bekwame fiets, en  waar die Suzuki regtig skitter is by die betaalslag. Teen ‘n raps onder die R154 000 moet die V-Strom beslis op jou lys wees as jy in hierdie marksegment ‘n fiets soek. Teen daardie prys kry jy baie fiets.  Dalk kan Suzuki jou tog oortuig om van jou welverdiende geldjies af te staan. Ek ry self ‘n 10 jaar oue V-Strom 650, en het nou al begin rondkyk vir ‘n plaasvervanger. Wel, ek dink ek het hom gekry.

briancheyne-suzukidl1000-4 briancheyne-suzukidl1000-9 briancheyne-suzukidl1000-11 briancheyne-suzukidl1000-12 briancheyne-suzukidl1000-13 briancheyne-suzukidl1000-16