Suzuki Vitara Artikel en Foto: Johann van Tonder

Suzuki Vitara Artikel en Foto: Johann van Tonder

As daar nou een segment is waar nog vuurwerke in terme van aanvraag en verkope is, is dit onder die kompakte sportnutsvoertuie. Toe Suzuki die oorspronklike Vitara in 1988 bekend gestel het, was die konsep van ’n klein sportnutsvoertuig nie net uniek nie, maar ook vernuftig. Uit daardie perspektief beskou was die destydse Vitara – en sy opvolger, die Grand Vitara – baanbrekers wat as’t ware die segment vir kompakte sportnutsvoertuie en meerdoelers geskep het lank voordat sulke voertuie gewild geword het.

 

Suzuki het onlangs die nuwe Vitara by sy arsenaal gevoeg. Die Vitara-reeks bestaan uit vyf modelle, met drie vlakke van spesifikasie: GL, GL+ en GLX. Daar is twee ratkaskeuses, terwyl voornmenede kopers ook tusssen voorwielaandrywing en die AllGrip-vierwielaandrywing kan kies. Al vyf weergawes benut dieselfde, uiters doeltreffende viersilinder-petrolenjin. Dié kragbron van 1,6 liter koppel wakker verrigting aan uitsonderlilke doeltreffendheid, en bied daarom nie net ratse padgedrag nie, maar ook suinige brandstofverbruik. Die maksimum kraglewering beloop 86 kW by 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 151 Nm by 4 400 r/min.

 

Die kajuit is ruim en gerieflik, met ’n gebruiksvriendelike uitleg. Al vyf modelle is met ’n volledige lys aktiewe en passiewe veiligheidstelsels toegerus. Daaronder tel ABS-sluitweerremme met noodrembystand, elektroniese stabiliteitsbeheer, sewe lugsakke (wat ’n knielugsak aan die bestuurderkant insluit), voorste rukstop-sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers, en IsoFix-kindersitplekankers. As gevolg van dié alomvattende veiligheidsarsenaal het die nuwe Vitara ’n volle vyf sterre in die jongste, streng EuroNCAP-botsingstoetse behaal.

 

Die Suzuki Vitara verkoop vanaf R 261 900 en word met ’n volledige waarborg van drie jaar/100 000 km gerugsteun, terwyl ’n vier jaar/60 000 km diensplan, en ’n padnoodbystanddiens van drie jaar ook ingesluit word. Diensintervalle is elke 15 000 km.

SV1