TAWWE TRITON OOK LEKKER LUUKS Nuwe Mitshubisi Triton dubbelkajuit

TAWWE TRITON OOK LEKKER LUUKS Nuwe Mitshubisi Triton dubbelkajuit

DEUR DIRK GALLOWITZ FOTOS: JOHANN VAN TONDER

Mitsubishi Motors Suid-Afrika het onlangs hul nuwe herontwerpte Triton dubbelkajuit bakkiereeks plaaslik bekendgestel. Die 2017-model, die vyfde generasie van die gewilde Colt/Triton-reeks, is volgens Mitsubishi die mees gevorderde bakkie wat Mitsubishi tot op hede ontwikkel het.

Terwyl die Colt bakkie redelik gewild in Suid Afrika was, het verkope van die daaropvolgende Triton-model nie juis stof opgeskop nie. Die vreemde ontwerp van die kajuit en laaibak het omtrent die wenkbroue laat lig langs die veilingskrale en by koöperasiekoffies.

 

Die nuwe bakkie verkoop reeds fluks in Australië, Brasilië, Europa en die Midde Ooste, maar is plaaslik aanvanklik slegs as ‘n dubbelkajuit en in 4×2 en 4×4 weergawes beskikbaar. Omvattend herontwerp, vertoon die nuwe Triton steeds modern en met die vreemde ontwerp nou meer verfyn. Die vooraansig vertoon aggressief en is dit veral die uitgeboude enjinkap, fris sierrooster en omvou-kopligte wat visueel tref. Agter vou die stertligte na voor met ‘n tipe vingerwysende punt om die hoeke, terwyl die ingeboude remlig nou in die laaideur geplaas is en nie meer soos met die ou model in die kajuit se agterkant  versteek word nie.  Blink kantspieels, herontwerpte kanttrappies en treffende 17”-allooisierwiele beklemtoon die blink-stefaans voorkoms .

Terwyl die nuwe bakkie in totaal slegs 20mm langer is as die vorige model, is die kajuit inderdaad met 200mm verleng teenoor die uitgaande model. Agterste insittendes, selfs die langeriges onder ons, het nou meer beenruimte, terwyl die agterste sitbank met ‘n klasleidende hoek van 25˚ na agter gemonteer is en die sitplekleunings boonop ook skuins na agter kan kantel. Herontwerpte sitplekke met dikker en digter spons dra verder by tot groter gemak, veral op langer ritte. Verbeterde klankdigting help met ‘n aangenamer ritervaring.

 

Die binneruim vertoon luuks en modern. Leerbekleedsel, kwaliteit materiale en goeie vakmanskap asook ‘n goeie uitleg bring die nuwe Triton se kajuit bykans op die vlak van die luukse Pajero modelle.

’n Nuwe voorpaneel sluit in onder meer ’n intuïtiewe raakskerm-vermaakstelsel wat die klankstelsel, tru-kamera se beelde, sateliet navigasie asook ritinligting vertoon.  Bluetooth en USB verbindings, sowel as ’n sleutellose drukknop-aansitter is ingesluit by die omvattende lys van standaard toerusting in die nuwe model wat ook spoedbeheer, dubbelsone-lugversorging, ’n elektries verstelbare bestuurdersitplek asook ‘n kantel- en teleskopies verstelbare stuurwiel insluit. Die netjiese stuurwiel is ook toegerus met skakelaars vir die klank-, telefoon- en spoedbeheer stelsels.

 

Die 2017 Mitsubishi Triton bied tans slegs een enjin opsie, naamlik ’n nuwegeslag-viersilinder-turbodiesel met ’n aluminium-enjinblok. Die nuwe enjin se turboaanjaer met ’n ongewone lae 15.5:1-drukverhouding lewer lewendige wringkrag teen lae enjinsnelhede. Die 2,4ℓ-MIVEC-enjin het ’n aluminium silinderblok met versterkte staalvoerings vir duursaamheid en ingeboude hoëdrukbuis-dieselinspuiting. Met ‘n gewigsbesparing van 30 kilogram teenoor die ou 2,5 turbodiesel in sy voorganger, hanteer die Triton nou veel beter. Verder het die ingeneurs dit reggekry dat die nuwe kleiner enjin aansienlik meer krag lewer met drasties minder vibrasie danksy nuwe monteerpunte op die onderstel. Piek kraglewering is 133kW teen 3500 rpm, met ‘n wringkragpiek van 430Nm teen 2500 rpm. Brandstofverbruik word amptelik aangegee as 7,6 liter per 100 kilometer in ‘n gekombineerde siklus.

Aandrywing is na die agterwiele (2H) of al vier wiele (4H in die geval van 4×4) met die keuse van ‘n 6-gang handratkas of 5-gang outomaties.

 

Tydens die bekendstellingsrit het ons heelwat kilometers op grondpaaie afgelê, waarvan sommige gedeeltes teen hoëspoed gedoen is. Daar was egter ook gedeeltes wat met slaggate en spoelslote besaai was na swaar reën in die area uitgesak het. Die Triton se padgedrag het beïndruk, deels te danke aan ‘n ligter enjin, maar ook danksy hersiene rolstawe, stywer voorvere en aansienlik groter rubbermonterings wat die romp aan die leerraam-onderstel heg. Die goeie hantering en stuurgevoel kan ook deels aan die hidrouliese kragstuurstelsel toegeskryf word wat baie meer direk is met 3,8 draaie van punt tot punt (teenoor die 4,3 draaie van sy voorganger). Voeg daarby ‘n effe korter asafstand en die klein draaisirkel van 5,9 meter sorg vir ongehoorde goeie gedrag tydens ons baie tegniese en hoogs uitdagende veldry en viertrek hindernisrywerk.

 

Mitsubishi se toonaangewende weergawe van sy bekroonde Super-Select II-aandrywingstelsel deur al vier wiele, wat ook in die jongste weergawe van die Mitsubishi Pajero diens doen, is grootliks verantwoordelik vir die nuwe Triton se indrukwekkende veldryvermoëns. Die stelsel bied aan die bestuurder die keuse van vier doeltreffende rymodusse deur ’n enkele skakelaar in die middelkonsole tussen die voorste sitplekke. Die Triton, wat ’n 40:60-kragverdeling pleks van die outydse 50:50-verdeling gebruik, behou die  padgedrag van wat gewoonlik met ’n kleiner motor met aandrywing deur al vier wiele geassosieer word,en sorg vir uitsonderlike goeie dinamika op grondpaaie. Ek het die nuwe model platvoet in tydrenstyl op die grondpad deur die draaie gelooi, en was beïndruk met die sportiwiteit en uitstekende stabiliteit vir so ‘n groot en voertuig.

Al die 4×4-dubbelkajuit modelle het ’n grondvryhoogte van 215mm en bied ’n klasleidende invalshoek van 28 grade, ’n vertrekhoek van 22 grade en ‘n oorbruggingshoek van 25 grade. Die viertrekboffins sal die waarde daarvan vir veldry goed verstaan.

 

’n Reeks dinamiese veiligheidstelsels is vir die Triton beskikbaar en kom die dubbelkajuit-weergawes onder meer toegerus met Mitsubishsi se baanbreker-ASTC (aktiewe stabiliteit- en kloubeheer) wat die remme inspan en die enjinkrag aanpas om die neus in die ryrigting te hou as die toestande glad en glyerig raak. Sluitwerende remme (ABS) en elektroniese remkragverdeling (EBD) sowel as opdraande-wegtrekhulp (HSA) is ook standaard by die nuwe model.