Toy Run 2016 ‘n reuse sukses.

Toy Run 2016 ‘n reuse sukses.

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

 

 

Vanuit Oudtshoorn, Mosselbaai, Knysna en Plett het hulle aangerol gekom soos donderweer. Honderde motorfietse gelaai met glimlagte en speelgoed. Die jaarlikse Suid Kaap Toy Run, ‘n motorfiets saamtrek waarin motorfiets entoesiaste hulle harte oop maak vir minder bevoorregte kinders, is op Sondag 27 November in George deur die South Western Districts Motorcyclists Association (SWDMCA) aangebied.

 

Die Suid Kaap Toy Run word elke jaar in ‘n ander Suid Kaapse dorp gehou en hierdie jaar was George aan die beurt. Toe die Toy Run laas in 2011 in George aangebied was, was daar behoorlik eende-weer en het omtrent 200 motorfiets entoesiaste die saamtrek bygewoon. Die jaar het die weer saamgespeel en die liefdadigheid geleentheid was ‘n reuse sukses. Met die massa-rit York straat op was daar motorfietse so ver as die oog kon sien. Die roete het deur die dorp gestrek van Redefine Square onder in York straat tot by die sirkel langs die museum, waarna Courtney en Knysnaweg gevolg is na die perseel van die Ryskool in Glenwoodlaan. Hier het kos stalletjies en motorfiets-speletjies die motorfiets entoesiaste vermaak. ‘n Eerste vir die jaarlikse Toy Run was ‘n lotery waarin ‘n 125cc bromponie gewen kon word. Die motorfietsryers het hul harte en beursies oopgemaak om kinderharte in die feestyd verbly. ‘n Berg speelgoed is ingesamel vir die minder bevoorregte kinders van Moreson Kinderhuis in George, asook die kinderhuis in Thembalethu. Soveel so, dat die oorskot van speelgoed ook na ander kinderhuise in die streek gestuur sal word, aldus die Toy Run komitee. Die bromponie is gewen deur Brian Oosthuizen van Knysna.

 

Die geleentheid was duidelik geniet deur oud en jonk teenwoordig, maar die grootste glimlagte van die dag het behoort aan die kinders. Kersvader ry nie net op ‘n slee nie, soms daag hy op op ‘n brullende motorfiets.