Toyota Land Cruiser 200 – Luukse Kanniedood – Johann van Tonder

Toyota Land Cruiser 200 – Luukse Kanniedood – Johann van Tonder

Januarie 1951, geskiedenis is gemaak toe die eerste Land Cruiser prototipe gebou is. Wie sou toe kon voorsien dat die voertuig sulke diep spore sou trap? Sedertdien het die voertuig ‘n aanhang en gevolg opgebou wat deur min indien enige fabrikate geëwenaar kan word. Vandag, meer as sestig jaar later, stoom die handelsmerk voort terwyl elke model steeds ‘n verbetering op die vorige is.

Die Land Cruiser handelsmerk het vier modelle op ons Suid Afrikaanse paaie. Die 70-reeks haas onbreekbare werkesels, die hardebaard 4×4 FJ Cruiser, die-alles-in een 4×4 en elkedag-voertuig Prado en laastens die ekslusiewe vlagskip Land Cruiser 200. Die eksklusiewe 4×4 segment is ‘n effense tameletjie as jou voertuig die naam Land Cruiser dra. In die eksklusiewe 4×4 segment is dinge soos status en luuksheid belangrik, maar in Land Cruiser kringe word bona-fide 4×4 vermoë as ononderhandelbaar beskou. Gevolglik moes Toyota met die laaste opknapping van die Land Cruiser 200 nie net die Santon sypaadjie-4×4 brigade tevrede hou nie, hulle moes ook seker maak dat as ons Suid Afrikaners die boendoe in foeter, die Land Cruiser ons in gemak oor die Afrika terrein sal vervoer.

Wat eerste opval van die nuutste weergawe van die Land Cruiser 200 is die aggressiewe stilering van veral die voorste buffer en sierrooster. Dit verander die voorkoms aansienlik en verteenwoordig ast’ware ’n gedaanteverwisseling vir die 2016-modeljaar. Daar is ook veranderings aangebring aan die modelreeks. Waar die Land Cruiser 200 in die verlede in beide petrol en diesel variante beskikbaar was, sal daar voortaan net ‘n diesel enjin beskikbaar wees. Die vraag na die petrol model was net te laag om die model verder te regverdig. Die goeie nuus is egter dat die Land Cruiser 200 nou weer in twee afwerkingsvlakke beskikbaar is: VX en GX. Die GX afwerkingvlak keer terug na ‘n paar jaar se afwesigheid en is met minder fiterjasies gemik op die koper wat meer ernstige viertrek ekspidisies aanpak. Beide word aangedryf deur die 4,5 liter V8 wat 173kW en 615Nm lewer, gekoppel aan ‘n ses-spoed outokas.

Binnelangs is die Land Cruiser verder verfyn, verbeter en toegerus met elke luukse wat kopers in die segment kan verwag. Veiligheid en viertrek stelsels is ook opgeknap. Die elektroniese kinetiese dinamiese veerstelsel (KDSS) bied beter hantering- en geriefseienskappe. Die veelterrein-monitor stel die bestuurder in staat om met die hulp van vier kameras die voertuig oor en deur veldryhindernisse maneuver. Die stelsel, in kombinasie met Toyota se veelterrein-modus omtower die Land Cruiser in ‘n gedugte veldryer van formaat. Die veelterrein-modus is ’n ontwikkeling van Toyota se A-TRAC-stelsel met ingeboude veelterrein-ABS, wat tot beter glybeheer lei. Dié stelsel beheer die enjinverrigting en remme om die beste vordering oor ’n verskeidenheid oppervlakke te bewerkstellig. Laastens en bykomend tot die stelsels, is daar ook kruipbeheer – Toyota se laespoed-veldryspoedbeheerstelsel, en natuurlik ‘n ewenaarslot.

In die nuutste gedaante is die Land Cruiser 200 meer tegnies gevorderd as die uitgaande model, maar hy het sy karakter as maklik bruikbare veldry-voertuig behou. Daarby beskik hy steeds oor die verpakking, gemak en teerpadverrigting wat nuwerwetse eienaars verreis. Die Land Cruiser 200 GX kan in jou motorhuis staan vanaf R850 000-00 terwyl die vlagskip Land Cruiser VX jou R 1 141 700-00 uit die sak sal jaag.

TL5b