TOYOTA SKEP TONKA-SPEELDING VIR VOLWASSENES

TOYOTA SKEP TONKA-SPEELDING VIR VOLWASSENES

Toyota het sy “onbreekbare” Hilux as volgrootte Tonka-speelding herontwerp wat twee wêreldbekende handelsname saamvoeg om hul onderlinge reputasie vir oneindige taaiheid te vier

Die Hilux Tonka-konsepmodel is deur Toyota Australië geskep om te help om dié hoë veldryer se deurbraak as topverkoper-voertuig in 2016 doer onder, te vier. Tonka is ’n huishoudelike naam en vier vanjaar se 70e verjaarsdag terwyl Toyota in sy 80e jaar is.

Die onthulling val saam met die vrystelling van Toyota GB se reeks kortfilms wat die Hilux in ’n kop-aan-kop-stryd met sy klein Tamiya-radiobeheerdemodel-eweknie in ’n reeks veldry- en verrigtingsuitdagings wys.

Die nuwe konsepmodel is deur ontwerpers en ingenieurs van Toyota van Australië se produkbeplannings- en ontwikkelingsafdeling van 150 mense ontwerp, gebou en getoets. Die produkontwerphoof, Nicolas Hogios, het gesê die ongewone styl en vermoë van die Hilux Tonka-konsepmodel sal die verbeelding van oud en jonk aangryp. “Ons het Tonka uit die sandput gehaal en die Hilux van bo tot onder en voor tot agter herontwerp,” het hy gesê

“Die projek, wat aangespoor is deur die Tonka-speelgoed waarmee kinders buite speel, strek verder as die bestaande puik vermoë van die Hilux om oor klippe te klouter en ander rowwe terrein baas te raak,” het Hogios gesê.

“Dit is ook dramatiese bewys dat ons plaaslike span dol is oor pret, gretig is om nuwe idees te ondersoek en altyd daarop uit is om die grense van wat moontlik is, uit te daag.”

’n Vlagskip-weergawe van die Hilux-produkreeks ‒ ’n SR5-dubbelkajuit met ’n kragtige turbodieselenjin van 2,8 liter ‒ skuil onder die dramatiese swart-en-geel-afwerking van die Tonka-Hilux. Die omvattende herontwerp begin by ’n aansienlik groter grondvryhoogte, wat die ryhoogte 150mm hoër maak.  Dít, tesame met ’n hoërit-as, swaardiens-vering en 35”-bande, stel die Hilux Tonka-konsepmodel in staat om rowwe terrein wat ontoeganklik vir gewone veldryvoertuie is, met gemak kaf te draf.

Die voertuig het ’n nuwe bosbreker wat by die voertuig se ingeboude veiligheidstelsels pas, terwyl die enjinkap met ’n koolstofvesel-laag oorgetrek is en ’n kragbult en luginlate huisves. Hoëverrigting-veldry-ligdiodes in dié staaf en ’n dakbalk sorg vir oorgenoeg lig om ’n veldry-uitdaging in die donker aan te durf, terwyl ’n geharde skermplaat van allooimetaal wat 6mm dik is, die oliebak en ander noodsaaklike komponente beskerm. Die romp en onderstel word deur buisvormige skermstawe aan die kante beskerm.

Die transformasie strek agter die kajuit verder en sluit ’n nuwe koolstofveselbedekte laaideur in (dit word met ’n ligte band eerder as ’n handvatsel oopgemaak) met ’n ingeboude drukvlerk en luginlate.

Die laaaibak het ’n verwyderbare buisraam wat al die toerusting soos brandstofkanne in plek hou, terwyl herwinningstoerusting vir uiterste veldrywerk in stewige bokse gehuisves word. ’n Brandblusser, byl, graaf en hoëlig-domkrag is ook deel van die toerusting.

Hoewel die Hilux Tonka-konsepmodel nie in vertoonlokale regoor die wêreld te sien sal wees nie, bied dit ’n kykie na wat alles moontlik is wanneer ’n span puik ingenieurs en ontwerpers hul koppe bymekaar sit.

2017 Toyota HiLux Tonka Concept

2017 Toyota HiLux Tonka Concept