TOYOTA YARIS PULSE Verjongingskuur jaag polsslag op Artikel: Dirk Gallowitz Foto: Johann van Tonder

TOYOTA YARIS PULSE  Verjongingskuur jaag polsslag op  Artikel: Dirk Gallowitz Foto: Johann van Tonder

Toyota het onlangs sy opgekikkerde Yaris Pulse plaaslik bekend gestel. Die nuwe Yaris het in Maart vanjaar sy buiging gemaak op die Geneefse Motorskou en is in werklikheid net ‘n middellewe mooimaakkuur en nie ‘n nuwe model nie. Tog is daar heelwat veranderinge en verbeterings aangebring wat die Yaris Pulse ‘n varser en meer moderne voorkoms en binneruim gee.

 

Die voorkoms is visueel treffend met ‘n groot, diep swartgeverfde uurglasvormige sierrooster wat die neus domineer. Daar is ‘n nuutontwerpte voorste buffer en hoofligte asook vertikale luginlate weerskante wat elk met strepie LED liggies afgewerk is. Agter vertoon die klein Yaris ook veel meer sportief met nuutontwerpte agterklap, lighulse en buffer. Kopers kry ook nou die keuse van meer en nuwe kleurafwerkings met kleure soos Glacier White, Satin Silver Metallic en Cosmic Blue. Daar is selfs, wat Toyota noem “Bi-tones”, wat met ‘n swart geverfde dak gekombineer word en Pearl White 2-Tone, Grey 2-Tone en Cinnabar Red 2-Tone insluit.

 

Binnekant vertoon die kajuit varser met nuwe kleure vir die bekleedsel asook swart en grys skakerings vir die panele. Die Yaris Pulse Plus CVT kry egter blinkswart afwerking op die instrumentepaneel en stuurwiel, terwyl daar ook blink afwerking om die skakelaars is. Voor in die middel van die instrumentepaneel is daar nou ‘n kleurraakskerm waarop die radio klankstelsel, lugversorging, slimfoonkoppeling asook die satelietnavigasie stelsel (sou jou model daarmee toegerus wees) verstel kan word.  

 

Dit is egter onder die enjinkap waar Toyota die grootste verandering gemaak het. Weg is die ou 1.3 liter petrolenjin met ‘n nuwe 1.5 liter VVT-iE petrolenjin wat sy buiging maak. Die nuwe enjin lewer tot 12% meer krag, maar teen ‘n beter brandstofverbruik en laer skadelike uitlaatgasse as die uitgaande 1.3 liter kragbron. Aandrywing is deur die voorwiele met ‘n 6-gang handratkas of via ‘n CVT outokas met ratspane agter die stuurwiel. Die 0-100 lopie neem 11 sekondes in 1.5 handrat model en 11.2 sekondes met die CVT.

 

Die Yaris Pulse reeks bied ‘n intree 1.0 liter petrol model wat slegs met ‘n handratkas beskikbaar is, twee 1.5 liter modelle beskikbaar in handrat of CVT met ‘n Pulse Plus luukser model wat slegs met CVT toegerus is. Verder bied die nuwe Yaris Plus ‘n segmenteerste Hibriede model.

 

Tydens die bekendstelling het ons slegs met die Yaris Pulse 1.5 handrat en Pulse Plus CVT gery en was beindruk met goeie padgedrag en gemaklike hantering.

 

Pryse: 

 

–       1.0 Pulse HR:                         R199 000

–       1.5 Pulse HR:                         R228 700

–       1.5 Pulse CVT:                       R241 400

–       1.5 Pulse Plus CVT:              R249 600