Vir as jy wil SMART wees DEUR DIRK GALLOWITZ. FOTOS: JOHANN VAN TONDER

Vir as jy wil SMART wees DEUR DIRK GALLOWITZ. FOTOS: JOHANN VAN TONDER

SMART het vroeër vanjaar sy derde generasie mikromotortjies in Suid Afrika bekendgestel.

Met die ForTwo en ForFour modelle hoop hoop Mercedes Benz, wie die klein stadtjorrietjies besit, om ook in Suid Afrika stadsverkeer makliker, meer ekonomies en tog ook stylvol te maak.

 

SMART is aanvanklik deur die bekende horlosiemaker SWATCH as ‘n konsep begin, maar is in die middel 90’s deur Daimler-benz oorgeneem en verder ontwikkel. SMART is derhalwe die akrononiem vir “Swatch Mercedes ART” en die konsep is so uitsonderlik en slim dat dit selfs ‘n permanente plek in New York se Museum of Modern Art gekry het.

 

Die SMART het veral gewildheid verwerf onder Europa se jonges in digbevolkte stede met hul nou strate en klein (ook skaars) parkeerplekke. Mercedes hoop dan om ook plaaslik verstedelike jong kopers  te werf met die “funky” en baie ekonomiese nuwe SMART modelle.

 

Met die bekendstelling het Mercedes SA beide die ForTwo (tweedeur) en ForFour (Vierdeur) weergawes beskikbaar gestel. Slegs eenkragbron is tans beskikbaar nl, die 1.0 liter 3-silinder petrolenjin wat 52kW en 91Nm se piekkrag lewer en kom met ‘n 5-spoed handratkas.  ‘n Turboaangejaagde 900cc petrol weergawe wat 66kW en 135Nm lewer kom in Julie vanjaar. Hierdie model gaan egter met ‘n 6-spoed dubbelkoppelaar ratkas toegerus wees.

 

Daar is 4 afwerkings opsies beskikbaar naamlik, Base, Prime, Passion en Proxy.

Die klein kompakte SMART is ideaal vir stadsverkeer en parkeringin klein ondergrondse parkeergarages,  met veral die ForTwo wat omtrent in ‘n hysbak kan inpas! Die nuwe ForFour kan egter twee passasiers saamkarwei as jy en jou pelle bietjie in die stad wil gaan rondrits. Die ForTwo se bagasieklap maak in twee dele oop met die onderste helfte wat afklap om inlaai te vergemaklik. Die ForFour se agterklap maak egter in geheel na bo oop.

 

Visueel lyk die modelle heel treffend. Die hoofligte het ‘n nuwe ontwerp en kom ook nou met dagry-liggies. Die sierrooster bied drie kleuropsies nl, swart, silwer en wit om by die res van die bakkleur te pas. Daar is egter meer as 40 verskillende kleuropsies waarmee jy die bakpanele en deure kan laat afwerk om jou SMART uniek te maak. Die nuwe SMART modelle is beskikbaar met 15” of 16” wiele.

 

Binnekant is die kajuit verbasend ruim. Ons twee frisserige 100kg+ manne het gemaklik in die voorste sitplekke gepas. Ontwerp en instrumentasie en uitleg is uiteraard modern, innoverend en treffend op die oog. ‘n Driespeek stuurwiel met kontroles vir die ritrekenaar, klankstelsel en spoedkontrole is opsioneel ekstra. Kopers kan ook die opsionele JBL klankstelsel met 12 luidsprekers kies. ‘n Sportiewe ronde toereteller is regs voor op die instrumentepaneel gemonteer en huisves ook die horlosie. Die standaard SMART klankstel kom met USB,MP3 en Bluetooth koppeling. Jy kan ook die opsionele SMART media stelsel kies wat ‘n 7” raakskerm insluit en in die middel bo op die voorpaneel geplaas word. 

Daar is nie SatNav beskikbaar nie, maar ‘n spesiale monteerstelsel wat vir slimfone ontwerp is en gekoppel is met die klankstelsel, laat gebruikers toe om die foon se satnav pakket te gebruik.  

 

Kopers kan hul SMART met verskillende pakkette individualiseer. Mercedes SA bied kopers tans die keuse van “Sports Package, Style Package, Comfort Package, Stowage Space Package, LED and Sensor Package, Cool & Media Package” asook “Cool& Audio Package”. Daar is verder ‘n lang lys van omvattende opsionele ekstras beskikbaar om jou SMART selfs mooier en anders te maak.

Die SMART het ‘n reputasie as ‘n baie veilige mikromotortjie. Die nuwe modelle bou daarop voort en ABS met EBD, remhulp, traksiebeheer, stabiliteitsbeheer en 5 lugsakke is ondermeer standaard. Opsioneel ekstra is veiligheidstelsels wat dwarswind stabiliteit bied asook wat SMART “forward collision assist” en lane keeping assist” noem.


Tydens ons rit deur die pragtige Boland het die SMART beindruk met gemaklike stadsverkeer en heel billike ooppadverrigting. Die ratwisseling is gemaklik en glad met pad- en windgeraas ten beste aanvaarbaar. Op die snelweg in 5de rat, was dit duidelik die SMART is eintlik maar ‘n stadskewer. Die enjintjie het maar gekla toe ons probeer het om die 120kpu snelheidsgrens (4000rpm) effens na bo te verskuif. By ons eindpunt kon ons egter die ForFour se kort draaisirkel van 8,65 meter toets asook die ForTwo se indrukwekkende draaisirkel van net 6,95 meter beproef. Die nuwe SMART se maklike hantering in klein beperkte spasie is een van die model se groot pluspunte. SMART se amptelike brandstofverbruik word aangegee as 4,2l/100km (ForFour) en 4,1l/100km vir die ForTwo.

 

Die SMART ForTwo verkoop vanaf R174 900 en die SMART ForFour vanaf R179 900. Alle Smart modelle word verkoop met ‘n 3jaar/60 000 km diensplan.1