Volvo S90 kén van eksoties wees Artikel: Charlen Raymond

Volvo S90 kén van eksoties wees Artikel: Charlen Raymond

Fabrikate is dit baie keer eens dat hul karre die wonderlikste is. Elk verkondig hul produk het die “nuutste” dit en die “beste” dat. En daar is niks fout daarmee nie, dis net dat die motors soms so “oorverkoop” word dat wanneer jy agter die stuur in klim – soos die Ingelsman sou sê – die gevoel redelik underwhelming kan wees. Toe Volvo hul S90 in Suid-Afrika kom bekendstel het was daar ook ʼn onderliggende geprys en opgewondenheid oor hierdie Sweedse skoonheid, veral na die sukses van die Motor van die Jaar 2016 Volvo XC90. Toe die S90 dus sy verskyning as toetsmotor kom maak was ons hele redaksie nuuskierig om te sien of die sedan kon opleef na beide die voorafgaande lofsange en die die sukses van sy Sportnuts nefie.

Uit die boonste gestoeltes

Die model wat Volvo SA kom aflaai het was die S90 T6 AWD Inscription. Dis ʼn mondvol, hierdie elle lange naam, maar dit verteenwoordig die allerbeste van die S90 reeks. Die ontwerp is groot, uitbundig en in-jou-gesig. Daar is geen tekort aan teenwoordigheid nie en hierdie skip op wiele rond sy postuur af met pragtige 20-duim wiele. Die publieke eweneens beindruk te oordeel aan die spontane reaksie. Dis seker daardie “Thor’s Hammer” ligte wat iets in mense uitgebring het, maar daar was lanklaas só oor ʼn kar gekwyl as vir híérdie Volvo!

Soos die XC90 is die S90 binne met eenvoud toegerus; toegevou in ʼn luuksheid wat gewoonlik net besturende direkteure van groot maatskappye beskore is. Die uitleg is skoon en die instrumentepaneel is vry van onnodige knoppies, met net ʼn enkele raakskerm wat pronk in die middel. Alles omtrent die voertuig word hiervandaan beheer. Dit kan ‘n rukkie neem om gewoond te raak, maar die uitleg is intuïtief en soortgelyk aan ‘n tablet, so kort voor lank is jy gewoond aan die stelsel en waardeer mens die skoon uitleg wat dit moontlik maak.

Gewig-tot-krag

Volvo se Drive-E 2.0-liter petrol- en dieselenjins word ook in die S90 model-reeks ingespan met kragvlakke wat verskil van model tot model. In die Inscription lewer die 2.0-liter petrol enjin ‘n allemintige 235kW en 400Nm, dus is die klem hier op verrigting eerder as ekonomie. Met greep deur al vier wiele versnel die S90 van 0-100km/h in slegs 5,9 sekondes. Volvo voer aan dat die gemiddelde petrolverbruik so laag as 7.2-liter/100km kan wees, maar iemand wat ‘n voertuig vir verrigting koop gaan nie ry asof hy op die Total besparingsrit is nie, daarvoor is die meer bedeesde (en veral diesel) modelle daar. Ons het ‘n meer entoesiastiese rystyl gehandhaaf en tog, die S90 ry soos ʼn droom. Dit sweef oor die pad eerder as om die bestuurder met truuks en toertjies en harde vering te beïndruk. Statig. Dis ʼn aangeleentheid eerder as ʼn kortstondige oomblik van passie. In die geheel gekyk is dit een van die beste luukse sedans tans te koop in SA. Volvo het hulself met hierdie wa oortref en is daar meer as genoeg rede vir hulle om te voel soos hulle voel.

Selfs daardie Ingelsman sou sy underwhelming gedagtes opsy skuif!

Die Volvo S90 verkoop vanaf R681 900-00, terwyl ons vlagskip AWD Inscription toetsmodel verkoop vir R885 830-00.