Volvo V60 Cross Country Deur Dirk Gallowitz

Volvo V60 Cross Country Deur Dirk  Gallowitz

Hedendaagse Volvo’s is lank nie meer daardie onooglike blokke metal van dertig, veertig jaar gelede nie en veral die nuutste reeks sportnutse uit Gothenburg is deesdae begeerlike rygoed. Dink maar aan die XC60 en die nuutste XC90.

As kind het ek ‘n Volvo stasiewa-ambulans “Match Box” karretjie gehad en toe Volvo in 1997 hul V70 Cross Country stasiewa bekendgestel het, kon ek weer met nostalgie aan my kinderdae terugdink.
Plaaslik het die V70 stasiewa nie juis aftrek gekry nie, en dit was maar grootliks te wyte aan Suid Afrikaners se weersin aan stasiewaens, want die V70 en veral die Cross Country modelle het baanbrekerswerk vir Volvo se beeld gedoen. Volvo het intussen die groot V70 stasiewaens asook die V70 Cross Country modelle se produksie opgeskort en met ‘n meer kompakte moderner V60 vervang.
Ek het die voorreg gehad om onlangs ‘n V60 Cross Country AWD T5 petrol model te ontvang pas nadat dit plaaslik bekendgestel was.

Die spreekwoord “beauty is in the eye of the beholder” is ongetwyfeld waar, maar vir my is die nuwe V60 Cross Country een van die mooiste voertuie tans beskikbaar. Die vaartbelynde ontwerp met die voorruit en daklyn wat laag na agter swiep, terwyl die lang neus na voor buig sorg vir ‘n elegante voorkoms wat die oog tref. Die Cross Country het ‘n grondvryhoogte van 201mm en hurk op groot opsionele 19” sierwiele met 60 profiel tekkies onder uitgeboude wielboë. Die resultaat is ‘n pragtige sjiek sportiewe voorkoms wat koppe laat draai.

Binnekant is die skoon ontwerp met kliniese ergonomie smaaklik gekombineer met materiale en afwerking wat spreek van goeie vakmanskap en gehalte. Instrumentasie is herkenbaar Volvo met die uitleg modern en intuitief. Die kajuit is verbasend ruim en bied sitplek vir 5 volwassenes met die groot leersitplekke gerieflik. Die laairuim het ook ruim pakplek, veral as die gees van avontuur jou beetpak en jy lus raak om in die bos te gaan kamp kan jy tent, stoele en koelkas gemaklik laai.

Ons T5 toetsmodel was aangedryf deur die 2,5 liter vyfsilinder turbo-petrolenjin wat ons in die vorige Ford Focus ST leer ken het. Aandrywing deur al vier die wiele geskied egter deur ‘n nuwe generasie 6-gang outomatiese ratkas. Die 0-100kpu lopie neem 7,1 sekondes en topspoed is 210kpu. Volgens Volvo gebruik die T5 AWD 8,5l/100km se brandstof in ‘n gekombineerde siklus van ooppad- en stadry met skadelike CO₂ uitlaatgasse wat as 198g/km aangegee word. Die brandstoftenk neem 68 liter.

Ek was veral beïndruk met die Volvo V60 CC se hantering en dinamika op grondpaaie. Die 60-profiel bande bied ‘n heerlik gemaklike rit self op effe sinkplaatoppervlaktes, maar dit was die stabiliteit en greep teen relatief hoë spoed deur draaie op losserige grond wat my breed laat glimlag het.

Die Volvo V60 CC is nie jou Rambo-bosbreker-bergklimmer-pantserwa nie, maar eerder Mike Horn se koets na nog ‘n woerts-warts avontuur met ‘n kajak op die dak en sy kampgoetertjies in die bagasieruim.

Die Volvo V60 Cross Country AWD T5 Outomaties kos R533,500.

V60 Cross Country