Volvo XC 90 Is dit dalk tans die beste SUV in SA? Deur Dirk Gallowitz

Volvo XC 90 Is dit dalk tans die beste SUV in SA? Deur Dirk Gallowitz

Volvo XC 90
Is dit dalk tans die beste SUV in SA?
Deur Dirk Gallowitz

Dit was ‘n ysigkoue wintersdag in die Kaap toe ek terug uit ‘n warm Gauteng land om die nuweling uit Gutenburg se bekendstelling by te woon. Soos ons oor die berge na Kaapstad toe daal was die witgesneeude bergtoppe nogal gepas – so asof Kaapstad Swede wil nadoen in sy verwelkoming van Volvo se nuwe vlagskip XC90.

 

Eerste indrukke is blywend sê die spreekwoord en met eerste aanskoue het die Sweed my verras. Die nuweling is lekker groot, bonkig en tog elegant. Groter as BMW se X5 byvoorbeeld en ruim met sitplek vir sewe. Interessant hoe Suid Afrikaners allergies vir stasiewaens is, maar tog fluks SUV’s koop wat eintlik maar ‘n stasiewa op steroids is. Van voor lyk die XC90 aggressief met die breë regop sierrooster en groot luginlate onder weerskante wat tref. Dit is egter die hoofligte, wat Volvo “’Thor’s Hammer’” noem, wat skrefiesoog om die hoeke strek en elegansie aan die Sweed se neus verleen. Die pragtige groot 20” sierwiele op breë rubber onder bonkige wielboë dra by tot die nuwe XC90 se visuele trefkrag. Dit is na my mening tans seker die mooiste SUV beskikbaar.

Die nuwe XC90 is Volvo se eerste model wat op hulle “SPA” oftewel “Scalable Product Architecture” gebou is en neem die leiding in Volvo se toekomsplanne vir modelvernuwing. In kort beteken dit dat die voorste en agterste as/aandrywingstelsels aan verskillende lengte onderstelplatforms gebou kan word. Die ontwerp maak ook voorsiening vir die toekomstige hibriede modelle.

Ons roete het ons vanaf die Kaapstad Internasionale lughawe na Franschhoek geneem. Die snelweg rit in die XC90 het beindruk en ek het ‘n kort ompad geneem om darem te voel hoe die groot Sweed grondpaddraaie hanteer. Ritgehalte, stuurgevoel en hantering op die natterige grondpad het vertroue ingeboesem. Vandaar is ons oor die 13 kilometer lange Franschhoek Pas met sy uitdagende kronkels en haarnaald draaie en terug. Net om dit weer te doen met ‘n ander enjinmodel! Die dieselenjin met sy heerlike wringkrag teen lae toere was my gunsteling terwyl ek elkeen hard deur die pas gelooi het. Uitstekende balans met goeie remme en bykans geen bakrol ten spyte van ‘n groot lyf, het die Volvo XC90 sommer gou-gou my hart gewen.
Die onderstel en veerstelsel is uitstaande as in ag geneem word die Sweed se grootte. Teen 4950m lank, 1776mm hoogl en 2008mm wyd, (dit sluit nie die kantspieëls in nie!) was ek verstom oor hoe gemaklik, veilig en akkuraat die XC90 gehanteer het. Dan was die rit ook heerlik gemaklik, selfs in die ratkas se “Sport”- verstelling.

Tans is slegs twee modelle met verskeie afwerkingspesifikasies beskikbaar. Die T6 petrol word aangedryf deur ‘n 2,0 liter 16 klep viersilinder petrolenjin met super- en turboaanjaging en bied 235kW /400Nm. Die D5 diesel is ook ‘n 2,0 liter 16 klep viersilinder maar kom met twee turbo’s en lewer 156kW/470Nm. Aandrywing is deur al vier wiele via ‘n 8-spoed Geartronic outomatiese ratkas. Skakelings is heerlik glad en soomloos. ‘n D4 diesel intree model wat slegs deur die voorwiele trek word by November vanjaar plaaslik verwag.

Volvo se reputasie as pioneer in voertuig/passassier veiligheid word verder uitgebou in die nuwe vlagskip XC90 met ‘n rits nuwe elektroniese stelsels. Daar is ondermeer Volvo se “IntelliSafe” wat outomatiese rem wanneer iets in die pad voorkom. Die stelsel identifiseer ook voetgangers en fietsryers in die dag en nag. Verder sal die veiligheidsgordels passassiers vastrek indien al die wiele die pad verlaat en dit so hou totdat die voertuig tot stilstand kom. Die XC90 se sitplekke is ook so ontwerp om die ruggraat te beskerm teen impak. Verder is daar ‘n nuwe “sambreel”-tipe 360⁰ kamera stelsel wat help om parkering en tru-stoot veiliger te doen.

Die kajuit is luuks, smaakvol en met hoë kwaliteit materiale afgewerk. Die instrumentasie se uitleg is intuitief en ergonomies prakties. Skakelaars en stelknoppe voel en lyk duursaam. Ek hou van die voorpaneel wat modern vertoon met skoon lyne en sonder fieterjasies of oordaad.
Die groot tablet-agtige raakskerm domineer die voorpaneel maar werk moeiteloos, intuitief en maklik. Die stelsel gebruik die jongste digitale platforms en kan met aanraking, vanaf die stuurwiel se satellietskakelaars of via die stembeheerstelsel beheer word.

Tans is drie afwerking opsies beskikbaar in Suid Afrika met “Momentum” wat ‘n luukse intreevlak is en dan die luukser “Inscription” en “R-Design” spesifikasies.

Pryse sonder opsionele ekstra’s:

Volvo XC90 T6 AWD Inscription – R907 600
Volvo XC90 D5 AWD Momentum – R853 200
Volvo XC90 AWD inscription a/t – R893 900
XC90 Premium pack – R55 000
(Sluit in ondermeer verhitte voorste sitplekke, “head-up display”, 360⁰ kameras, Bowers & Wilkins klankstel, blindekol alarm en sleutellose toegang)