X MOKKA, WIE’S JY?

X MOKKA, WIE’S JY?

Sportsnutse en veral kompakte es-joe-wee’s is gonswoorde by motorvervaardigers.

Elkeen probeer harder as die ander om die illusie te skep van ‘n medium grootte avontuurwa wat die antwoord moet wees vir die “ek-is-moeg-vir-die-lewe-in-die-stad”-generasie.

n Gesinswa wat ekonomies op sous en groot genoeg vir die gesin en hul bagasie moet wees. Natuurlik moet dit luuks binne wees, met al die moderne toerusting wat die peperduur miljoen plus modelle so begeerlik maak en dan moet die voorkoms darem ook Sondag voor die kerk aandag kan trek. Dit alles moet verkieslik kom teen die prys van jou gemiddelde gesinsedan.

 

Opel is kliphard aan’t woel aan daardie ideë. Sedert 2012 is daar reeds 13 modelle plaaslik bekendgestel waarvan die voorkoms opgekikker is. Dit sluit die nuwe Mokka X in, die eerste van Opel se nuwe generasie X-modelle waar al die toekomstige SUV en avontuurgerigte modelle met ‘n “X” geïdentifiseer gaan word.

Nou die vorige Mokka is in 2014 in SA bekendgestel en het reeds bykans 2700 eenhede plaaslik verkoop. In Europa is die Mokka egter al sedert 2012 beskikbaar en wêreldwyd het meer as 600,000 eenhede sedertdien verkoop.

 

Einde laasmaand is die Mokka X plaaslik bekendgestel en ons het laasweek ‘n ” Enjoy” model ontvang, afgewerk in treffende goudbruin,  om vir ‘n week die paaie aan ons pragtige Weskus mee te verken.

 

Wat voorkoms betref trek die Mokka X aandag. Met heelwat skerp lyne en hoeke is die Mokka X beslis modern. Nuwe hoofligontwerp met dagryliggies en misligte wat laag onder op die hoeke van ‘n swart rooster geplaas is, vang die oog. Die bonkige heuplyne, skerp neus en 130mm grondvryhoogte wat oor groot lae-profiel wiele hurk, gee ook ‘n stywe skeut aggressie en sportiwiteit aan die Mokka X se beeld. Van buffer tot buffer is die nuwe Mokka X  4,28 meter lank en kompeteer in grootte met ondermeer die Nissan Juke, Honda HR-V, Mazda CX-5 en dalk ook Ford se EcoSport.

 

Dit is egter veral binne die kajuit waar die meeste opknapwerk gedoen is. Die voorpaneel vertoon nou baie meer modern met skoon lyne en ‘n netjiese uitleg. Reg bo middel in die paneel is die volkleur raakskerm waarop al die klank-, kommunikasie- en ritinligting vertoon word. Dit bied ook SatNav en kies jy tru-rat, vertoon die tru-kamerabeelde in hoë definisie. Parkeergonsers voor en agter waarsku as daar te naby aan ‘n voorwerp beweeg word. Die instrumentehuls het ‘n analoog toereteller en spoedmeter met ‘n klein digitale skerm waarop ondermeer ritinligting vertoon word.

Die 3-punt stuurwielontwerp vertoon netjies en huisves skakelaars vir klank, telefoon en spoedbeheer.

 

Die Mokka X beindruk met ‘n ruim, goedafgewerkte kajuit wat gerieflik sitplek vir 5 volwassenes bied. Ons toetsmodel se sitplekke was met leer oorgetrek wat die res van die materiale en afwerking in die kajuit komplimenteer. Agterste passasiers het verbasend baie beenruimte met die sitplekke se sitgedeeltes wat kan oplig en vorentoe kantel sodat die rugleunings heeltemal plat kan lê om ‘n groot gelyk laairuimte te skep. ‘n Smal noodwiel is onder die bagasielaairuimte ingepas.

 

Al die Mokka X modelle word aangedryf deur ‘n 1364cc vier silinder turbo petrolenjin wat 103kW en 200Nm se piek syfers lewer.  Die 0-100 kpu lopie neem 9,8 sekondes en topspoed word aangegee as 196kpu. Ons toetsmodel is toegerus met ‘n 6-gang handratkas met heerlik gladde skuiwe en ‘n gemaklike koppelaaraksie. Die amptelike brandstofverbruik word aangegee as 5,9 l/100km.

 

Op die teer hanteer die Mokka X verbasend rats met baie min pad- en windgeraas. Tydens grondpadry het die onderstel en veerstelsel beïndruk met uitstekende absorbering van skokke en vibrasies tydens ‘n slegte sinkplaatgedeelte. Dit ten spyte van die lae profielbande en stywe bandruk.

Opel mik met die nuwe Mokka X na jongerige kopers wat steeds lus is vir avontuur, maar kieskeurig is oor hoë vlakke van toerusting, moderne ontwerp en goeie brandstofverbruik. Die Mokka X trek ‘n “X” in al daardie blokkies. Ons toetsmodel Mokka X Enjoy 1.4 T met 6-spoed hantrat kas verkoop teen R317,500. Ingesluit by die aankoopprys kry kopers die Opel Complete Care pakket wat ‘n omvattende 5jaar/120,000km waarborg en 5jaar/90,000km diensplan insluit.